God se Woord in vandag se woorde

Hoop trek ons deur


Ek was as skoolkind al ’n entrepreneur. Nie dat ek geweet het dit is wat ’n mens dit noem nie. As weduwee het my ma hard gewerk om die pot aan die kook te hou, maar vir my eie sakgeld moes ek self werk. En ek was nie bang nie.

So kry ons eendag ’n projek. Dit was eintlik te groot vir die drie vriende van ons, maar ons was nie bang nie. Ons moes ’n nuwe huis se erf gelykmaak en gras plant. Die erf was baie groot en die aarde woes en vol rommel. Maar die betaling was goed, groter as wat ons al tot op daardie stadium verdien het.

Met elke kruiwa vullis wat ons teen die bult uitgestoot het, het ons gedink aan die groot bedrag geld. Elke keer as jy regop kom na nog ’n graaf vol bourommel en jou rug nie meer reguit kan maak nie, flikker ’n prentjie van die betaling voor jou oë verby. Wanneer jy nog ’n grassooi van doer bo af dra en jou bene voel of dit onder jou gaan ingee, voel en ruik jy al daai nuwe fiets hier onder jou.

Dit was goeie tye! Tye wat ’n mens gevorm het en ‘n mens baie lesse van die lewe geleer het. Soos om presies te leer waaroor hoop gaan. Hoop gaan oor ’n belofte dat daar aan die einde van ’n projek ’n prys vir jou wag.

Dis ’n eenvoudige beeld, met baie gebreke, want as ek dit nou op ons geestelike hoop toepas, beteken dit nie dat ons moet werk vir ons plek in die hemel nie. Wanneer jy werklik glo dat Jesus God se Seun is en dat Hy ook vir jou sondes betaal het, en wanneer jy kies om Sy volgeling te wees, is geen dade nodig om jou plek in die hemel te verseker nie. Ons goeie dade is slegs ‘n uitvloeisel van ons dankbaarheid vir wat Jesus vir ons gedoen het.

Tog leer die ervaring my ietsie van hoop. Ons het soveel hoop nodig. Ons het hoop nodig om ons deur swaar tye te sleep. Wanneer ek so swaar trek, help hoop my om my oë te lig en te fokus op dit wat nog op pad is vir elke kind van God.

Dit help my om nie vas te kyk in die swaar waarin ek nou vasgevang is nie, want as ek in die omstandighede hier om my vaskyk, gaan dit my spoed net nog meer breek. My gemoed gaan net nog swarter raak, totdat ek later geen hoop meer het nie.

Jy sien, die lewe waarin ons nou is, kan ons nie eintlik hoop gee om deur die swaar te trek nie. Die hoop wat dit wel bied, is tydelik van aard, kan enige tyd in ons gesig opblaas en kan nie vertrou word nie. Dis plastiek-hoop.

Jesus is ons ware hoop. Hy het reeds na die aarde toe gekom om vir ons die pad na God toe te bou. Hy het ons vrygemaak en die grense tussen mens en God kom afbreek. Ons kan nou in ’n oop verhouding met God staan. Ons is deel van God se huis en hier moet ons met alles in ons aan die hoop vashou. Ons moet met alles aan God se beloftes vashou en weet dat Hy dit elkeen een vir een sal laat waar word.

Soos ons as jong klonge vasgehou het aan die betaling aan die einde van die projek en dit ons gemotiveer het om aan te hou, so moet ek my oog hou op dit wat Jesus vir ons reggekry het. Wanneer ons swaar trek, moet ons hierop fokus. Dit sal ons deur die lewe trek en sal ons die son tussen die donderwolke sien breek.

6En ons is Sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

Teks
Hebreërs 3:1-6

Om oor na te dink
Wat steel jou hoop?
Waar lê jou hoop?
Hoe kan jy weer hoop?

Gebed
Vader, ek besef ek moet my kop lig en wegkyk van die swaar om my. Ek weet ek kan meer op U vertrou. Ja, Here, U het die huis gebou. Jesus, U is die Seun in die huis en U sal altyd vir my, U dienskneg, red. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek