Hoppende van kerk tot kerk
3Die tyd sal kom wanneer mense nie meer belang sal stel om na die waarheid te luister nie. Hulle sal eerder wil aanloop agter dinge wat vir hulle lekker is. Daarom sal hulle liewer na predikers toe stroom wat net vir hulle vertel wat hulle graag wil hoor. 4 Van die waarheid sal hulle niks meer wil weet nie. Nee, hulle sal baie meer hou van allerhande stories oor godsdiens wat mense sommer uit hulle duim gesuig het.
’n Paar jaar gelede was alle eredienste op Sondae in groot kerkgeboue. Die mense het in groot getalle opgetrek na dié kerkgeboue, soveel so dat geboue vergroot is en parkeerterreine groter gemaak is.
Maar toe gebeur ’n snaakse ding. Ewe skielik word elke beskikbare ruimte in die dorp vir Sondae gehuur waar ander predikers op hul manier dienste lewer. En die groter kerke loop in dik strome leeg. Die hoofstroom kerke voel seker nie goed nie, maar op ’n manier moet dit hulle dwing om vrae te vra: Hoekom trek my lidmate agter ander predikers aan? Wat doen ons dan verkeerd?
Dit is nie maklik om jouself te ondersoek en te kyk waar lê die foute nie. Dit is nie lekker om te erken dat jy foute maak nie, maar dit is tog nodig. Die toets is of jy nog die waarheid vertel.
Die waarheid maak ook soms seer en dit is nie lekker om te weet dat jy nou vir ’n tydjie in ’n verkeerde rigting geloop het nie. Maar as jy dit nie regstel nie, is jy besig om al verder van die Here se plan vir jou en jou gemeente te beweeg.
Dit is ook belangrik dat ons dié waarheid in die regte vorm giet as ons dit na ons medegelowiges neem. Ons kan nie maar net aan ploeter op die ou manier van doen en hoop dat God die mense sal bring om Sy Woord te hoor nie.
Ons almal moet weer laag en lank voor God gaan buig om seker te maak dat ons binne Sy wil lewe. So maklik verander waarhede in tradisie en word tradisie aanbid en nie die waarheid nie. Sonder dat die kerk dit weet, verander haar doel en daarmee saam haar rigting.
Daarom is dit kardinaal dat alle geloofsgemeenskappe gedurig uit die resies sal klim en seker maak of hulle nog in die regte rigting hardloop met die korrekte doel voor oë.
Maar net soos die kerk vandag gedwing word om oor haar pad te besin, is dit ook belangrik vir die mense wat wegtrek van die een kerk na die volgende geloofsgemeenskap om seker te maak hulle gaan nie maar net omdat dit die nuus is wat hulle wil hoor nie.
Daarom hierdie vers: 5Maar jy moet nie dieselfde fout maak nie. Bly wakker en hou altyd kop. As dit jou in die moeilikheid bring, moenie bang word nie, maar hou aan om ander mense van God te vertel, want dit is jou werk.
So maklik kan ons beweeg na die plek waar dit vir ons lekker is en waar daar nie te veel van my verwag word nie. Maar is dit die plek waar God wil hê jy moet jou talente in aksie sit? Is dit die plek wat God vir jou in gedagte het?
Onthou: die kerk is nie eerstens wat jy kan kry of wat jy ervaar nie, maar is eerder die plek waar jy jou gawes in werking kan stel. Jy gaan dus nie om iets te kry nie, maar om iets te gee, om iets te doen. Dit is nogal anders as waaraan ons gewoond is, nè!
Daarom moet jy wakker bly en nie aan die slaap gesus word nie. Maak seker jy is op die regte plek en besig om met jou talente God se wil te doen.
Teks
Teks 2 Tim 4:1-5
Om oor na te dink
Is jou geloofsgemeenskap nog in die regte rigting op pad?
Is jy nog wakker?
Wat staan jou te doen?
Gebed
Here, maak my hart oop en gereed om die waarheid te ontvang uit U Woord, al maak dit soms seer. Amen.