Hou vas
Ann (skuilnaam) stuur vir my ‘n e-pos na aanleiding van ’n stuk wat ek geskryf het oor ’n vriend se 4 maande oue baba se wiegiedood:
Ons het in Februarie ons dogter aan die dood afgestaan – sy was 27. Ek het soveel simpatie met hierdie mense met die verlies van hul baba – woorde is daar nie – geen woorde van enige iemand bring troos nie, maar wat ons wel verstaan, is dat ons nie deur die hartseer sonder God kan kom nie – sodra ek voel ek gaan dit verloor, is dit net die Heilige Gees wat vertroosting bring.
Ek het ook jou boodskap van Life Happens gelees – daar waar iemand voor jou inry; daar waar ‘n egpaar se verhouding aan flarde lê; daar waar jy in die dokter se spreekkamer wag vir uitslae en ’n voorgevoel het dit gaan nie goeie nuus wees nie; daar waar jy nie goeie besluite in jou lewe geneem het nie …
Dan is daar Death Happens – en ek word in die oggend wakker en wonder hoe kan alles wees soos dit was – ek verstaan nie hoe my hart aanhou klop nie, ek verstaan nie hoe die lewe aangaan soos dit doen nie. Ons staan op en Life Happens, maar dit voel soos die einde van die wêreld nadat my kind weg is.
Maar een ding verstaan ek wel – ek vertrou op God, want by Hom is alles moontlik. Ek hoef dit nie te verstaan nie – al breek my hart elke dag ‘n paar maal in duisend stukke. God alleen is in staat om ons te troos – Hy stuur Sy Heilige Gees om ons krag te gee en te wys hoe die lewe aangaan.
Een aspek wat droefheid en verlies opnuut beklemtoon, is ‘n mens se onvermoë om te verstaan wat met jou gebeur en wat die toekoms vir jou inhou. Dis juis dan wat ‘n onwrikbare vertroue op God gemoedsrus en vrede bring. Die feit dat jy nie weet hoe nie en nie verstaan nie beteken nie dat jy nie op Hom kan vertrou nie.
God sal Sy Plan uitvoer en jy sal uiteindelik in verwondering moet uitroep: “Hy het alles goed gedoen!”
Dis baie mooi geskrywe, maar dit maak dit nie makliker as jy aan Death Happens se kant staan nie. Jy sien, elke keer as jy net dink aan die seun of dogter of eggenoot of ouer of geliefde wat so ontydig van jou weggeneem is, is dit asof iemand met ’n lang mes dwarsdeur jou hart steek.
Dis seer en die pyn gaan nie weg nie.
Dan hang ek met alles in my as aan: 12As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers.
Dis so ’n eenvoudige versie, maar dit is al waaraan ’n mens kan vashou. As ons volhard, as ons die pyn deurstaan, as ons nie ons geloof in Christus opgee nie, al is dit hoe seer, sal ons eendag saam met Hom in die hemel woon.
Hieraan hou ek vas.
Dis al.
Teks
2 Tim 2:8-13
Om oor na te dink
Watter verlies het jy die afgelope tyd ervaar?
Waaraan hou jy vas?
Gebed
Here, daar is tye wanneer dit vir my voel asof dinge net nie reg loop nie. Daar is tye wat ek nie meer moed het nie. Die vrae te veel en die antwoorde te min. Dan sukkel ek om vas te hou. Hou asseblief aan my vas, my Here en my God. Amen.