God se Woord in vandag se woorde

In jou skoene te stap


’n Mens se lewe loop soms anders as wat jy beplan het. Ek het na my studies vir 12 jaar op twee wonderlike wynplase geboer. Hier is ek blootgestel aan die dag tot dag lewe van ’n boer en al sy uitdagings. Een van die grootste uitdagings is dat jy uitgelewer is aan die natuur.

As daar droogte is, is daar droogte. As die wind te vroeg kom, waai dit die blommetjies van die stokke af en is daar eenvoudig nie ’n oes nie. Baie keer boer jy eintlik maar net vir die bankbestuurder.

Die daaropvolgende agt jare in die besigheidswêreld het my baie geleer en sterk gemaak vir my eie pad se stap. Dit was nie altyd lekker nie. Inteendeel, baie Sondagaande moes ek braai om ontslae te raak van die blouheid wat in my siel kom woning maak het. Later was ek maar net ’n opgehemelde personeelbestuurder wat kordaat moes staan teen die koue unies. Kontantvloei het snags my slaap kom steel.

As ek egter vandag oor die jare terugkyk, besef ek dat God toegelaat het dat ek die paaie stap, want ek sit nie met ’n klomp kopkennis nie. Ek sit met ervaring wat ’n mens in geen boek kan leer nie.

Ek weet hoe dit is om te boer. Ek verstaan die boere. Ek kyk reg deur hulle rooi oë en sien die pyn om alles staande te hou.

Ek weet hoe dit is om met die groot beer van kontantvloei te stoei en hoeveel amps dit uit die besigheidsman trek wat hier voor my, sonder vreugde, pap sit en net die prop op alles wil trek.

Om iemand anders te verstaan, moet jy in sy skoene stap. Om vir iemand anders iets te beteken, moes jy êrens sy skoene aangetrek het.

Dit is wat Jesus kom doen het. Jesus het hier op die aarde in die stofstrate kom stap. Hy kon nie maar net daar in die hemel bly sit en dink Hy verstaan die swaar en seer waardeur ons elke dag moet sleep nie.

14Hierdie kinders in die familie van God is almal mense en daarom is dit logies dat Jesus ook mens geword het.

Dit is nogal baie vertroostend om te weet dat Jesus presies weet waardeur ons gaan. Hy staan nie apaties eenkant nie. Vir seker nie, want Hy het dit aan Sy lyf ervaar. Dit waardeur jy nou gaan, die swaar pad se stap, moes Jesus ook trotseer.

Hy is verneder. Hy is voor die hof gedaag en vals beskuldig. Die kerk het Hom as ’n leuenaar uitgekryt. Hy is op gespoeg. Hy het alles verloor. Hy is met swepe geslaan. Spykers het Sy hande en voete deurboor. Aan ’n kruis is Hy opgehang. Hy is vermoor.

Jesus verstaan jou bondel probleme. Hy weet. Neem dit na Hom toe. Hy verstaan. Hy het al in jou skoene gestap. Hy ken die pad van swaar, maar Hy weet ook waarheen dit lei.

Teks
Hebreërs 2:10-13

Om oor na te dink
Waar lê jou swaar?
Glo jy dat Jesus verstaan?
Kan jy dit nou na Hom toe neem?

Gebed
Jesus, dankie dat ek kan weet dat U ook reeds in my skoene gestap het. Maar ek weet nie hoe om dit vir U te gee nie. Help my net! Help my asseblief om die swaar ligter te maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek