God se Woord in vandag se woorde

Jaag jou droom


Ons tap so bietjie amps van Paulus se manier van lewe. Eerstens het ons gesien ons moet ’n vaste fondament hê en daarvoor moet ons die Woord van God gebruik. Tweedens het ons by Paulus geleer dat ons lewenswandel ’n storie van God moet vertel.

Die derde raad wat ons uit Paulus se lewe tap, is dat hy ’n doel in die lewe gehad het. Dis so duidelik soos daglig dat Paulus net een doel voor oë gehad het en dit was om die evangelie by almal uit te kry.

Hy sou nie ’n klip onaangeraak los om hierdie doel te bereik nie. Hy het op skepe geklim, woeste storms tegemoet gegaan, sy lewe in gevaar gestel net om die verlossende boodskap van Jesus aan die verlorenes oor te dra.

Hy was nie bang om op te staan teen die kerk wat mense ontneem het om vry te kom van die sondelas wat hulle rondgesleep het nie. Selfs teen die regering het hy nie sy mond gehou nie. Daarom dat hy in die tronk sit.

Sien jy waar is Paulus se fokus? Hy sien ander mense raak. Hy sien mense wat rondploeter en geen toekoms het nie. Hy sien mense wat swaar sleep en hy sit met die antwoord. Hy het die boodskap wat hulle lewe vir altyd kan verander en wat hulle kan vry maak van die swaar sleep.

Paulus het nie gedroom om eendag ’n familie met ’n groot huis en lekker kar te hê nie. Paulus wou nie homself opwerk in ’n besigheid om eendag gemaklik af te tree met ’n huisie by die see nie. Dit was nooit vir hom op die kaarte nie. Al wat hy wou doen, is om ander te help om, soos hy, die lewende God te ontmoet, Jesus as hul Verlosser te aanvaar en die Heilige Gees in hulle los te laat. Sy doel op aarde was so duidelik soos daglig.

En nou by die noodwendige vraag: Wat is jou doel op aarde? Waaraan spandeer jy die meeste tyd? Om jou eie koninkrykie op te bou, sodat jy eendag ’n huisie by die see het?

Dit is seker nie verkeerd om groot drome te hê of om eendag suksesvol te wees nie, maar ons moet nooit hierdie drome droom sonder om vir God te vra om ons te help om ook by Sy droom vir ons lewe uit te kom nie.

Ja, vir seker het God ook ’n droom vir jou en my lewe. God droom ook dat ons ons gawes wat Hy vir ons gegee het, sal inoefen en sal laat werk. Onthou: God het vir ons elkeen gawes gegee waarmee ons in Sy Koninkryk moet woel.

Kom ons wees lekker prakties en vat ’n stuk papier en skryf die volgende vrae neer: Wat is my doel op die aarde? Wat is God se droom vir my? Wat is my droom? En dan hierdie ene: Wat wil ek hê moet eendag op my grafskrif staan?

Vra vir God om jou deur Sy Gees te lei. Dalk is dit een woord. Dalk is dit ’n klomp en dis ook goed so. God werk met elkeen van ons anders. Dalk pop die antwoorde sommer net so op. Dalk loop jy lank voordat die son deur die wolke begin breek.

Hou dit prakties en eenvoudig. Begin klein, maar moenie in die pad staan om ook groot te dink en te droom nie. Onthou, die almagtige God is saam met jou aan die droom en dan is daar geen keer aan hoe groot die droom kan wees nie.

Onthou, die spreekwoord: What you can dream you can do! Jaag jou drome na en doen elke dag dit waarvoor God jou op die aarde geplaas het.

Teks
2 Tim 3:10-13

Om oor na te dink
Wat is my doel op die aarde?
Wat is God se droom vir my?
Wat wil ek hê moet eendag op my grafskrif staan?

Gebed
Vader, help my om die vrae te beantwoord. Gee my ’n duidelike beeld van U droom vir my. Help my om dit neer te skryf en dan elke dag na te jaag. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek