Jesus en God is ’n mean team
Die afgelope tyd is ek in verwondering oor die Bybel, die Woord van God. As dit die Woord van mense was, sou dit nie tot nou toe nog bestaan het nie. Ander mense sou alles mooi verklaar het en die woorde sou nie meer vir ander iets beteken het nie. Maar omdat God self die outeur was, sal die woorde van die Woord nooit opraak nie. Dit sal nooit hulle betekenis en waarde verloor nie. Dit sal tot in ewigheid bestaan en vir mense die pad wys, omdat God daarby betrokke was.
Net so kan dieselfde oor Jesus gesê word. As Jesus maar net ’n gewone mens was, sou daar nie na 2 000 jaar steeds so baie oor en van Hom gepraat word nie. Nelson Mandela was deur sommige ’n verlosser genoem. Hy is bekend tot aan die uithoeke van die wêreld. Ons kinders se kinders sal van hom weet, maar daarna sal sy bekendheid vervaag totdat sy storie later net ’n paragraaf in ’n geskiedenisboek sal wees. Dis hoe dit werk met mense.
Wanneer God egter betrokke is, werk dit anders. Dan hou die storie nie op nie. Daar is nie ’n einde nie, want… 19God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees.
Jesus was nie ’n gewone mens nie. God was in Jesus, saam met Jesus. Jesus was God.
As mense na my toe kom en sê dat hulle nie in Jesus glo nie, vra ek graag: “Wat is die datum?” Hulle sê gewoonlik net die dag en miskien die maand. Dan vra ek hulle watter jaar dit is. Nadat hulle dit geantwoord het, vra ek hulle of hulle weet waarna dit verwys. Gewoonlik verskyn daar ’n paar vraagtekens in hulle oë. “Huh, wat bedoel meneer dan nou?”
Die jaargetal verwys na die aantal jare na Christus se geboorte. Elke keer as ons die datum gebruik, dui dit op die geboorte van Jesus Christus. Nie regerings, groot leiers, oorloë en selfs tyd kon dié feit uitvee nie. Sonder dat mense dit besef, verwys hulle na die bestaan van Jesus wanneer hulle die datum noem.
Dis net God wat so iets kan regkry. Die bestaan van Jesus sal tot in ewigheid ’n realiteit bly.
Wat beteken dit vir ons? Ons dien ’n awesome God. ’n God wat nie bang is om alle stoppe uit te trek as Hy ’n ding doen nie. Hy doen dinge wat selfs die tyd nie kan uitvee nie. Sy lewe het ’n impak in die wêreld en in mense se lewens wat vir ewig sal bly staan. Hy is ’n almagtige God met krag wat niemand kan teenstaan nie.
Maar meer nog, wanneer ek God, Jesus en die Heilige Gees in my lewe nooi, staan ek ’n kans om te oorleef. Ek kan nou in die lig lewe en sien waar die strikke lê. Eintlik het ons ’n binnebaan. Nee, nie ’n binnebaan waar geen swaar tye ons gaan platduik nie. Onthou: Ons is deel van die sondige wêreld met sy hoop swaar en seer. Die binnebaan wat ons het, is dat ons die hulp het van die Heilige Gees om ons deur die swaar en seer te navigeer.
Ons moet dit gereeld vir mekaar sê: Ons God het al die mag in die wêreld. Hy het immers die wêreld geskep. Hy en Jesus was saam op die aarde en toe Jesus se werk klaar was, het Hy Jesus se Gees vir ons gelos. ’n Goddelike Gees is ín ons wat in Hom glo. Ja, ’n almagtige Gees is ín ons.
Dit sal tot ons voordeel wees as ons meer ruimte vir Hom in ons lewe gee. Probeer dit en kyk hoe verander die wêreld om jou.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Beleef jy Jesus se krag in jou?
Ervaar ander dit?
Watter verskil maak dit in jou lewe?
Gebed
Jesus, dankie dat U God is. Dankie dat U meer as net ’n gewone mens is en dat U bereid was om na die aarde te kom. U is meer as die grootste en besit al die krag in die wêreld. Aan U kom al die eer toe. Amen.