God se Woord in vandag se woorde

Jesus en my prentjie van God


’n Vriend wat ek op skool laas gesien het, vra my om sy ma te begrawe. Hy en sy vrou praat oor sy ma se lewe en dis merkwaardig al die stories wat sommerso oor sy lippe aangerol kom. Maar een ding waaroor sy ma baie vrae gehad het, was oor die lewe hierna. Dis nie vreemd nie. Ek dink ons almal wonder soms hieroor. Sommige van ons is selfs ’n bietjie bang en eintlik is dit oraait so, want vir vreemde dinge was ons maar nog altyd skrikkerig.

Die vrees kan egter minder raak as ons vir God beter leer ken. Nou hoe leer ’n mens God beter ken? 15Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk, sien ons wie en hoe God is.

Deur na Jesus se manier van lewe hier op aarde te kyk, kry ’n mens ’n goeie idee van hoe God se hart lyk. Ons kinders vertel aan die wêreld die storie van óns as ouers, hoe ons lyk, hoe ons optree, wat ons glo en so.

’n Vorige direksielid van Kruispad se seun was saam met sy skool in Windhoek in die Kaap op toer. Soos dit deesdae mos is, word daar ’n WhatsApp-groepie gestig van al die ou pelle in die Kaap. Die seun se ou skoolmaats besluit om een middag vir hom in Gordonsbaai te gaan kuier. Die reünie was goed. Een van die ouers sê op die groepie: “Dankie almal! Vandag was baie spesiaal en baie lekker!! Eddie, ou maat, daai jongman van jou is ’n baie goeie ambassadeur vir julle gesin!”

Jesus was God se ambassadeur hier op aarde. Ons leer vir God ken, ons sien sy hart deur Jesus se manier van doen fyn dop te hou. En watter mooi prentjie is dit nie! Jesus wat die klomp honger mense sien en hulle jammer kry. Hy besluit daar en dan om via ’n wonderwerk elkeen se onmiddellike honger uit te sorteer. Die een na die ander siektes word genees. Besetenes word bevry. Verlamdes loop. Melaatsheid verdwyn. En so is daar hordes voorbeelde van God se hart wat grondvat hier op aarde.

Die grootste voorbeeld van God is Jesus se onbaatsugtige daad aan die kruis. Die een wat juis nie kwalifiseer om vir sonde gestraf te word nie. Dis juis Hy wat geoffer word, tereggestel word sodat dié wat dit verdien nie gestraf word nie.

Dís God se hart. ’n God vol liefde wat niks ongeroer sal laat nie, wat planne sal maak sodat dit maklik is vir sy kinders om by Hom uit te kom.

Daarom hoef ons nie bang te wees vir die lewe hierna nie. Ja, al weet ons nie presies hoe dit daar lyk nie, al is dit vreemd, ken ons tog vir God. Ons weet hoe sy hart lyk, omdat ons vir Jesus leer ken het. Ons weet dat Jesus vir ons baie liefhet en alles vir ons sal doen. Daarom sal die lewe hierna ook goed vir ons wees.

Iets kom nou by my op: Ons is mos Jesus se broers en susters. Dan is ek en jy mos ook ambassadeurs vir God. Dan teken ons mos ook ’n prentjie van God hier op aarde. Mense wat nog nie vir God ken nie, kyk mos deur ons manier van lewe na die prentjie van God.

Dalk sal ons ’n paar dinge anders moet doen…

Skrifgedeelte

Kolossense 1:15-20

Om oor na te dink

Ken jy vir Jesus?

Ken jy vir God?

Hoe lyk jou prentjie van God vir ander?

Gebed

Here, dankie vir U genade. Dankie dat ek U kan leer ken deur Jesus. Dis ’n mooi prentjie wat Hy van U teken. Help my om U prentjie duidelik aan ander te wys. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?