God se Woord in vandag se woorde

Jesus-liefde-volgeling


Hoe herken ’n mens ’n soldaat in ’n groot groep mense? Dis die ou met die weermagklere aan of die ou wat ’n gevegswapen by hom het. Hoe herken ’n mens ’n skolier uit? Natuurlik aan die skooluniform.

So, kan ’n mens dadelik iemand identifiseer deur net na sy of haar kleredrag te kyk. Ons kan egter meer van mense leer deur na hulle gedrag te kyk. ’n Ma kan ’n mens van ’n myl af herken, waar sy om haar kinders kloek. Die pa kan ’n mens ook gou opmerk, waar hy voor stap en die rigting aandui.

En hoe ken ’n mens Christene uit? Is dit die mense wat met die Bybel onder die arm by die kantoor ingestap kom? Nie noodwendig nie. Dit het ek aan my eie bas gevoel toe ek nog in die besigheidswêreld was. As jy saam met hierdie mense in die bed klim, is dit jou bas wat eerste brand!

Is dit die tannie met die hoed op, wat haar as die Christen laat uitstaan? Ook nie noodwendig nie, want ’n hoed op die kop vertel jou nie veel van daardie persoon se verhouding met God nie. Dalk net dat sy op pad is kerk toe.

Daar is eintlik net een maatstaf, net een aksie wat rerig wys dat mense Christene is, en dit is liefde. Liefde en die uitleef daarvan moet die uiterlike bewys wees dat jy in God glo.

Dit is juis Jesus wat die opdrag vir ons kom gee het. Ons moet vir mekaar lief wees soos wat Jesus vir ons lief is. Die liefde wat Jesus vir ons het, is so bitterlik groot. Dis so groot, dat Hy selfs bereid was om Sy eie lewe op te gee, sodat ons kan lewe. Dit is ware liefde.

En dis presies dieselfde liefde wat ons moet gaan uitleef. Hierdie opofferende liefde moet ons teenoor mekaar leef. Hier is nie plek vir die eie ek of wat ek daaruit kan kry nie. Nee, dis eintlik ’n gee-liefde, waar ek net wil dien en vir die ander een die beste wil gee.

Wanneer ons hierdie liefde daar buite in die wêreld gaan uitleef, gaan die mense vir Jesus sien en dan sal hulle sê: “Daar loop ‘n volgeling van Jesus. Hulle is Christene, want hulle doen net soos Christus.”.

Die vraag is natuurlik of ons die prentjie so in die wêreld uitleef. Dit lyk egter vir my of die Christene en kerke daar buite so met mekaar baklei, dat die liefdesprentjie bitter dof is. Inteendeel, die wêreld gebruik graag hierdie liefdelose prentjie en sê as dit is hoe dit lyk, wil hulle nie so lyk nie.

Ons het ’n eenvoudige opdrag: 1Julle moet in liefde lojaal bly teenoor mekaar soos broers dit doen.

Hierdie opdrag moet ons eers gaan inoefen daar by die mense naaste aan ons. As ons dit nie daar gaan regkry nie, sal ons dit nie in die wêreld regkry nie. Gaan sit saam om die tafel en leer by Jesus. Gaan skryf Sy manier van liefhê neer en maak dit deel van jou manier van lewe.

Dan sal jy dit buite ook regkry en mense sal kan sien hoe lyk ’n Jesus-liefde-volgeling.

Teks
Hebreërs 13:1

Om oor na te dink
Leef jy in liefde met alle gelowiges?
As daar onmin is met iemand, wanneer gaan jy dit regstel?
Moet jy iemand vergewe?

Gebed
Hemelse Vader, help my om Jesus se voorbeeld van onselfsugtige liefde te volg. Selfs wanneer dit moeilik is! Dan kan ander mense ook uit my voorbeeld sien dat my lewe nie net om myself draai nie, maar dat ek regtig lief is vir U. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek