God se Woord in vandag se woorde

Jesus maak die handrem los


Jesus het almal wat Hom aangeneem het as hulle Verlosser, vrygemaak van die gevolg van sonde. Hy het die boeie waarmee die sonde ons gevange gehou het, losgemaak. Maar dit lyk tog of ons bietjie sukkel met dié vryheid. Dit lyk vir my mense wil eerder duidelike bane hê wat die pad van die lewe vir ’n mens aandui. Daarom dat hulle kort-kort terugbeur na wette en regulasies.

Soms staan daar leiers op wat vir ander wil voorskryf dat sekere dinge wat eintlik geoorloof was, nou nie meer reg is nie. Mense trek die handrem op oor sekere dinge wat jy mag lees en nie mag lees nie. Selfs sekere kosse is nou nie meer op die spyskaart nie. Sommige familie tydverdrywe word ook taboe gemaak.

Baie keer is dit juis die lekker dinge waarvan mense hulle nou moet weerhou. Dit laat dink my aan die kerk wat vroeër jare gesê het dat ’n mens nie mag dans nie, want dis sonde. En toe begin die mense daaroor te grap en te sê, jy mag dans, solank jy dit nie geniet nie …

Dit is egter niks vreemd dat mense die handrem vir die vryheid wil optrek nie. Paulus waarsku ook: 3Dink net, hulle sê mense mag nie trou nie en vertel vir hulle dat hulle sekere kos nie mag eet nie. Wat hulle vergeet, is dat God alles gemaak het, ook die kos. Hoekom wil hulle nou die mense verbied om te trou en nog erger, hoekom wil hulle nie hê dat ons al die lekker vleisies moet geniet nie?

Ons moet oppas dat ons nie om die bos gelei word nie. So maklik verval ons weer in reëls en regulasies wat al ons vryheid kom steel. Braam (skuilnaam) sê dit so mooi in ’n e-pos vir my:

As ons Christene word, kry ons ’n kleed van geregtigheid wat Christus vir ons bewerkstellig het. Dis gratis. Maar nou begin ons voel ons is heilig en ander wat nie so “heilig” soos ons is nie moet reggehelp word. En wie beter as die heilige ekke kan dit doen?

Dan begin ons ’n klomp reëls en wette opmaak om mense in lyn te hou. Dis net hier waar genade en liefde by die deur uitvlieg. Dis net hier waar godsdiens gebore word en die werk van Jesus aan die kruis onnodig word.

Jesus het die reëls ge-challenge en die reëlmakende Fariseërs aangevat en gewys dat dit nie gaan oor reëls nie, maar oor ’n verhouding.

Braam sê hier ’n baie waar ding. Dit is slegs binne ’n intieme verhouding met Jesus waar ons nie reëls en regulasies nodig het om ons op die pad te hou nie. Binne die verhouding is dit juis die taak van die Heilige Gees om ons met Sy sagte stem op die pad te hou. Hier word ons vryheid beskerm. Hier word die handrem losgemaak en so gelos.

Mag jy die vryheid wat Christus gebring het, geniet en mag jy dit met almal om jou deel.

Teks

1 Timoteus 4:1-5

Dink bietjie hieroor

Is daar dalk reëls wat jou vashou?
Hoe lyk jou vryheid?
Wie rondom jou het ook die vryheid nodig?

Gebed

Vader, U het U lewe vir my opgeoffer sodat ek nie die straf wat my sonde verdien, self hoef te dra nie. Dankie dat U bloed my vrygemaak het en dat my liefde vir U my help om volgens U wil vir my lewe te leef. Geen reëls en regulasies kan dit regkry soos die liefde nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek