God se Woord in vandag se woorde

Jesus se somme is anders


In ons dae was daar nie iets soos Graad R nie. Selfs kleuterskole was nie so algemeen nie. Ons het geëet, gespeel, geëet, gespeel en geslaap. Daarom was die meeste van ons erg tranerig toe ons in die klaskamers, wat soos ’n hok vir ons gevoel het, ingedruk word.

Alles was vreemd. Die banke was hard en ons boude vir seker nie gewoond om so lank stil te sit nie. Ons het nie geweet hoe om ’n vetkryt vas te hou nie, wat nog te sê om iets daarmee te teken. En die reuk wat jou neusgate gevul het, was erg benoud.

As ek nou daaraan dink, was ons wild en die juffrou het een doel voor oë gehad en dit is om ons mak te maak.

Gelukkig het ek van somme gehou. Seker omdat die juffrou sulke rooi appels gebruik het om die konsep te verduidelik. Met een rooi appel in die hand, het sy nog een uit die bak gehaal, en gevra: “As ek een appel het en ek vat nog een uit die bak, hoeveel appels het ek dan?”. Ek het eerste kliphard uitgeskree: “Twee!”. Juffrou het my berispe dat ek eers my hand moet opsteek voor ek antwoord, maar dit het nie my trotse gevoel afgewater nie, omdat ek die antwoord reg gehad het.

Later het sy die minus ook verduidelik: “As ek twee appels het en ek vat een weg, hoeveel het ek oor?”. Ek het die ander kinders laat antwoord, want netnou is ek weer in die moeilikheid …

Ek het later besef dat die appels met baie dinge vervang kan word. Een sonde plus nog ’n sonde, is gelyk aan twee sondes. En as jy nog een doen, dan is dit drie en so gaan dit aan, totdat jy ’n hoop ontelbare sondes het.

Maar die minus werk nie lekker dieselfde nie, want as jy twee sondes het, kan jy nie een aftrek en dan sit jy net met een oor nie. Die plus werk baie goed en die hopie raak net groter en groter. En daar is niks wat ons daaromtrent kan doen nie.

Selfs nie eens ’n klein sonde minus ’n groot daad, kan die sonde laat verdwyn nie. En ons weet mos dat die gevolg van sonde die dood is. Die resultaat van sonde is dat mense die ewige lewe mis en in die ewige vuur beland.

God het dit geweet. Hy het besef dat ons mense in ’n moewiese benarde situasie sit en dat ons somme eenvoudig nie kan werk nie. Toe maak die Meester-sommaker nuwe somme, wat nie eintlik vir die mens sin maak nie, want sien, ons somme van een goeie daad wat sonde uitvee, werk nie.

3… Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe.

Jesus se kruisdood was ons skoon van sondes. Die som: ’n Hoop sonde minus Jesus se dood aan die kruis, is gelyk aan sondeloos. Die resultaat: Ons kan die hemelpoorte op ’n draffie inhardloop.

Dis so eenvoudig, maar tog op ’n manier te groot om te verstaan. Daarom glo ons net …

Teks
Hebreërs 1:1-4

Om oor na te dink
Hoe lyk jou sonde-som?
Wat maak Jesus se somme aan jou?
Wat maak jy met Jesus se somme?

Gebed
Vader, ek weet nie altyd lekker hoe U somme werk nie. Dit maak nie sin nie. Tog kan ek nie anders as om dit net so te aanvaar nie. Sonder U somme maak my somme vir seker nie sin nie. Dankie vir U somme! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek