God se Woord in vandag se woorde

Jesus weet


Ek stap al ’n tydjie ’n pad saam met Sandra (skuilnaam). Iemand het haar gewaarsku dat haar man haar dogtertjie verkrag. Dis ’n nare stryd en selfs sy moes in die ondervragingsbank inskuif.

Ek is hierdie week vir twee dae kruisverhoor oor my aksies om my kind uit die greep van die verkragter “te steel”.

Ek het gevoel soos ek dink Jesus in Tuin van Getsémané moes voel. Vader as hierdie beker my verby kan gaan … Asseblief! Maar nie my wil nie, U wil!

Dit was ’n onbeskryflik slegte ervaring. Ek, onder kruisverhoor, waar my aksies, dade en woorde verdraai en betwyfel word!

Ek het God in daardie slegte en vreesaanjaende tye ervaar. Ek weet meer en meer dit gaan nie oor my of haar nie, maar oor die Koninkryk.

Uit al die hartseer sal God seëvier!

Bly asseblief saam met my biddend. Nie ons wil nie, maar God s’n …

Blikkies! Ek haal my hoed vir Sandra af. Sy moet haar arms stompies af baklei om haar kind uit die bose se hande te kry. Ek bewonder haar veggees en uithouvermoë. Maar ek bewonder haar geloof nog meer. En op ’n manier ervaar sy aan haar eie lyf waardeur Jesus moes gaan.

En dit is juis hier waar ’n groot stuk troos oopbreek. Jesus weet presies waardeur Sandra nou moet gaan, want Hy is self deur die dal van doodse skaduwee. Hy is verneder, op gespoeg, geslaan, geskop, vals beskuldig, met swaarde gesteek, vasgespyker aan ’n kruis en dood.

9… Ons sien dat Hy vir ’n kort rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gehad het. Hy het selfs gely en is doodgemaak.

Dit is juis as gevolg van hierdie aardse vernedering wat God Hom verhoog het tot die hoogste posisie in die heelal. 10Maar nou is dit anders. Juis omdat Hy so gely het, het God Hom ’n belangriker posisie as die hemelwesens gegee. In die oë van almal is Hy nou so belangrik soos ’n koning vir sy onderdane is.

Hoe wonderlik is dit nie dat die heel belangrikste Persoon in die heelal, hier op die aarde was om vir ons plek voor te berei in die hemel! Besef ons werklik hoe groot die daad was? Besef ons werklik watter groot genade ons klomp sondaars te beurt geval het?

Dit was egter goed dat God Jesus vir ’n kort rukkie minder belangrik as die hemelse wesens gemaak het. So kon Hy as mens sy lewe in ons plek gee.

Ja, dankie tog dat Jesus Sy lewe vir ons gegee het!

Sit jy dalk nou soos Sandra in ’n lewensgevaarlike stryd? Druk die lewe elke krieseltjie krag uit jou uit? Is dit een groot gesukkel?

Gaan na Jesus toe. Hy weet presies waardeur jy gaan, nie net omdat Hy God is nie, maar juis omdat Hy self daardeur geworstel het toe Hy hier op aarde was.

Teks
Hebreërs 2:5-10

Om oor na te dink
Waar sleep jy swaar?
Hoe kan jy dit na Jesus neem?
Glo jy dat Hy verstaan?

Gebed
Jesus, U is so goed vir my. U verstaan my seer en my swaar, want U is self daar deur. Nou moet U my help dat ons dit kan uitsorteer, want ek kan nie meer nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek