God se Woord in vandag se woorde

Jou CV asb


Filippense 1:1

In die besigheidswêreld het ek regtig nie ’n goeie track record gehad wanneer dit kom by die aanstelling van nuwe mense nie. Dis altyd ’n storie as jy mense moet aanstel, want eers moet die regte advertensie geplaas word, dan kom hordes en hordes CV’s deur die rekenaar gevlieg en dan moet die regte mense gekies word met wie jy onderhoude wil voer.

Die laaste 3 of 4 aanstellings wat ek gedoen het, het nie langer as 3 maande gehou nie. Lyk my ek was maar ’n bietjie swaar op sekretaresses.

Alhoewel ons dit duidelik stel in die advertensie dat ons net ’n een bladsy CV benodig, is daar sommige wat omtrent ’n hele pak papier gebruik om alles op te som waar hulle nou op die leer van die lewe staan. Gewoonlik gaan haal die soort hom duskant geboorte daar in De Aar.

Maar ai, keer op keer sien jy dat wat op die CV staan heeltemal vreemd is vir die waarheid. Sommer een van die eerste vrae: “Ek sien op jou CV staan jy ken Pastel?” (’n Boekhouprogram)

Stilte.

Dan daai ver kyk en êrens van agter in die oë sien jy so ’n flou liggie na vore kom: “Ja, ek ken haar. Ek kan nou net nie onthou van waar ek haar ken nie. Miskien was ons saam op Laerskool De Aar.”

Dalk moet iemand navorsing gaan doen om te kyk hoeveel waarheid op CV’s te vinde is.

Paulus en Timoteus se CV’s is kort: 1Paulus en Timoteus, twee mense wat Christus Jesus dien met alles wat hulle het… Kort en kragtig!

Uit hierdie CV kan jy 100% bepaal waaroor hulle lewe gaan en waar al hulle tyd en energie ingaan. Elke stukkie van hulle bestaan word gekenmerk en oortrék met die dinge van Jesus Christus.

Wil jy weet wat ek doen? Ek doen net die Here se dinge! Wil jy weet wat is vir my die belangrikste in die lewe? Jesus Christus. Met al my mag jaag ek Christus se belange na. Nee, nie my eie nie. Daarom sal ek selfs my lewe gee vir Hom.

Dis ’n kragtige CV en deur al die boeke wat Paulus geskryf het, weet ons ook dat die CV van hom en Timoteus net vol waarheid is en nie soos ons s’n wanneer ons mense probeer manipuleer om vir ons werk te gee nie.

Maar as jy nou geseënd was om vir ander Christene te kon skryf, wat sou die opsomming van jou CV bo-aan die brief wees?

Ok, ek is mos nou aan die skryf vir ander Christene. Wat kan ek bo-aan die geskrywery skryf? GB, man van God? GB, die voorbeeld van ’n ware kind van God? GB, met God altyd in sy gedagtes? Of GB, nooit van die wêreld, maar altyd naby God?

In skaamte moet ek my kop laat sak, want ek dink nie ek kan op al die hoop vrae ’n stewige “Ja!” skree nie. Ai, hoekom duik ons so gereeld in die hek? Seker ook maar net mens.

En jy?

Om oor na te dink

Hoe vergelyk jou verkorte CV met Paulus en Timoteus s’n?

Waar val die pap op die grond?

Wat moet jy anders probeer doen?

Gebed

Here, ek besef maar net weer dat ek te kort skiet. Êrens beur ek te veel na die wêreld en te min na U. Dit is duidelik sigbaar op my CV. Daarom wil ek so graag meer soos U lewe. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek