God se Woord in vandag se woorde

Jy is in beheer!


Ek wonder of jy ook soms voel dat jy nie in staat is om ander reg te help nie. Soms voel ek te sondig of eenvoudig net te gebrekkig aan planne en energie om in die Koninkryk van God te woel. Ja, ek weet ons almal word geroep om ’n verskil in die wêreld te maak, maar baie keer voel dit vir my of ek nie genoeg gereedskap het nie.

Terwyl ek hier sit en tik, kom ’n gebedsversoek van my vriendin op WhatsApp in. Haar man is een van die direkteure van ’n baie groot maatskappy. Twee weke terug het ’n virus by hul rekenaarsisteme ingesluip. Hulle praat van ’n ransom virus, want wat die ouens agter die virus doen, is om jou data so te verfomfaai dat jy dit glad nie kan gebruik nie. Dan moet jy eers miljoene betaal, voordat hulle die sleutel gee om alles weer reg te stel.

My vriend weier om dit te betaal, want baie keer gee hulle ’n sleutel vir die helfte en dan moet jy nog miljoene betaal om die ander helfte reg te kry.

My vriend het nie die antwoord nie. Maar vir twee weke woeker hulle al dag en nag om oplossings te vind. Hy en sy hele afdeling bid saam en werk hard. Probeer hier en maak daar nuwe planne. Hulle skryf nuwe kodes. Hulle beveg elke aanslag met hand en tand. Die oorlog is nog nie gewen nie, maar hulle het al ’n paar veldslae se oorwinnings in die sak.

My vriend is vir my ’n voorbeeld. Hy gaan sit nie in sak en as nie. Hy sê nie vir sy ander direkteur: “Jammer, ek het nie die gereedskap nie. Ons moet maar betaal wat die moegoes vra.” Hy skraap al sy moed bymekaar en takel die monster reg van voor.

Jy sien, my vriend weet wie hy is. Hy weet dat God saam met hom deur die oorlog stap. Daarom is hy nie bang nie. Hy neem beheer en laat nie toe dat die duiwel ’n vatplek kry nie. Ja, ek weet soms wonder hy. Daar was seker ook tye wat hy gedink het dis tyd om die handdoek in te gooi. En tog, draai hy net daar om en veg voort.

En dan verstaan ek die vers beter: 15… Build up their courage, and discipline them if they get out of line. You’re in charge. Don’t let anyone put you down. (The Message)

Weet dat God vir elkeen van ons gesag gee. Hy gee ons die sleutel om in die wêreld deure oop te sluit en die gevangenes vry te laat. Ons moenie bang wees vir die monsters nie. Ons moenie dink ons is te klein, te min, te onkundig nie. God het vir ons elkeen ’n goeie stel gereedskap gegee. Ons moet hierdie gawes gebruik en in God se wêreld gaan woeker.

Neem beheer. Staan op. Klim oor jou vrede. Al voel dit vir jou of die monster te groot is, weet dat ons God baie groter is. Met Sy Gees stap Hy saam met jou. Hy sal die houe vat. Hy sal jou optel as jy struikel en saam sal julle as oorwinnaars uitstap.

Jy is in beheer!

Teks
Tit 2:15

Om oor na te dink
Waarvoor is jy skrikkerig?
Waar moet jy opstaan?
Waar moet jy voor loop?

Gebed
Here, dit voel nie vir my of ek beheer is nie, maar meer asof ek wegduik vir skuilplek. Help my om my gedagtes in lyn te kry met U Woord en te verstaan wat my gesag met U aan my kant beteken. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek