God se Woord in vandag se woorde

Jy’s dalk die enigste Bybel


Of jy dit nou wil weet of nie, mense hou jou dop. En ek weet nie hoekom dit so is nie, maar mense sit met vergrootglase en soek na daai plek waar jy nét buite die lyn van die speelveld getrap het. Dan word dit wyd en suid uitgeblaker.

Ek sit by ’n vriend in sy kantoor. Sy besigheid het ’n paar besluite geneem waarvan sommige mense nie hou nie. Sy foon lui onophoudelik. Dis ’n Sondagkoerant. Hulle wil weet wat sy kommentaar is, want ja, die artikel is klaar geskryf en verskyn Sondag.

Soms voel ’n mens net lus om alles te los, want jy doen jou bes om binne die lyne te stap en as jy weer sien, sit jy met gebakte pere.

Daarom dat Paulus vir ons soveel goeie raad gee: 5As julle met mense te doen kry wat nie Christene is nie, moet julle julle veral goed gedra. Gebruik elke oomblik om ’n positiewe invloed op hulle uit te oefen.

Ek vermoed die groot woord hier is sensitief. Ons moet sensitief wees vir die dinge wat ons doen. Ons moet seker maak dat niemand ’n vinger na ons kan wys nie. Tree in elke ding wat jy doen só op dat Christus se beeld nie beskadig word nie. Ons moet só optree dat ander mense óók so wil doen. Ons dade moet ander nie wegstoot van God af nie, maar juis aantrek.

Ons kom elke dag met baie mense in aanraking wat nie vir God ken nie. Waar sal hulle vir God sien? Hulle loop nie sommer in ’n kerk in en vra om Jesus te ontmoet nie. Nee, jy kan dalk die enigste een wees waar hulle God kan sien. Waar hulle Jesus aan die werk kan sien.

En dit is juis in die tye wanneer dit moeilik gaan, wanneer krisisse dryg, wanneer die bloed begin kook, wanneer onreg aangedoen word dat ander hulle vergrootglase uithaal en net wag dat jy jou voet buite die speelveld sit sodat hulle kan sê: Aha! Het jou! Jy sê jy is ’n Christen, maar kyk nou net wat het jy hier aangevang!”

Dis ons almal se opdrag: Ons moet vir ander wys hoe lyk God. Soos Francis van Assisi gesê het: Vertel ander van Jesus en indien nodig, gebruik woorde.

Jy is dalk die enigste Bybel wat die mense rondom jou ooit sal lees.

En op ’n manier word ons aangehits om die opdrag uit te voer: Gebruik elke oomblik. Die 1953-vertaling klink so: Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit. Moenie wag vir ’n volgende seisoen nie. Moenie uitstel nie. Nee, doen dit sommer nou, want dalk is môre te laat.

Jy is dalk die enigste Bybel wat die mense rondom jou ooit sal lees.

Hoor die erns.

Moenie wag vir ’n volgende seisoen nie. Moenie uitstel nie. Nee, doen dit sommer nou, want dalk is môre te laat. Jy is dalk die enigste Bybel wat die mense rondom jou ooit sal lees.

Teks

Kolossense 4:2-6

Om oor na te dink

Vir wie rondom jou is jy ’n Bybel?

Sien hulle orals vir God raak?

Hoe kan jy ’n groter invloed hê?

Gebed

Vader, hierdie is ’n groot opdrag. Help my om die beste gebruik te maak van elke geleentheid wat U vir my gee om U Naam uit te dra en groot te maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek