God se Woord in vandag se woorde

Kampers sonder kolle


Ons het ons roeping sommer in ’n vers of twee deurgewerk. Ons het gehoor dat ons elkeen ’n roeping het en dat ons nie een of ander verskoning moet uitdink om nie ons roeping uit te leef nie. Deel van ons roeping is om vir ander ’n voorbeeld te wees deur die manier waarop ons praat en doen. Die vertrekpunt hiervan is natuurlik die liefde en moet gestalte vind in ons geloof. Ons sluit nou die kort kursus af met die laaste eienskap: reinheid.

Kom ons lees net eers weer vers 12 soos dit in die 1983-vertaling staan: Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.

Ek sit en dink ’n lang tyd oor wat die woord reinheid beteken. Ek staan later op en loop ’n draai deur die kampterrein waar ons vir die vakansie staan. Ek stap verby die wasgoedlyn en sien ’n spierwit langbroek wat daar hang. Ek wonder wie kom met so ’n broek kamp. In die bos raak alles gou vuil, veral as dit so bietjie gereën het. Dan stoot die modder gou tussen jou tone deur.

Dis seker hoekom hulle sulke groot wasmasjiene hier het. Dis van daardie masjiene waar jy ’n paar R5-stukke in ’n gleuf plaas en sodra jy die plaatjie met die regop R5-stukke vorentoe druk, begin die masjien grom. En dink nie daar is ’n sagte stelling vir delikate was nie … Die broek met die bruin modderkolle kom spierwit anderkant uit.

Ek vermoed dit is hoe ons lewe ook moet lyk: rein, skoon, spierwit met geen kolle nie.

Die oorspronklike griekse woord wat hier gebruik word, is hagneia wat eerstens dui op ’n seksuele skoon lewe. Ons moenie toelaat dat die seksuele deel van ons lewe vol kolle raak nie. Indien jy nog nie getroud is nie, weerhou jou van seks met jou maat, al is julle op pad om te trou. Sorg dat jy rein voor jou eggenoot staan, want dit is hoe God dit graag wil hê.

Maak ook seker dat jou wit klere nie bemors word met pornografie nie. Ai, dis deesdae orals en so maklik om te kyk. Op ons rekenaars tot ons fone en selfs van ons vriende se WhatsApp boodskappe. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons seksuele klere skoon bly.

Die oorspronklike griekse woord kan ook vertaal word met heiligheid. Dit beteken om afgesonder te wees vir God. Ons moet leef soos kinders van God wat spesiaal vir Hom opsy gesit is. Die dinge wat ons doen, moet hiervan getuig. Ons moet seker maak dat ons fisies skoon bly. Moreel moet ons die reguit pad loop en geestelik moet ons afgesonder wees vir God. Dis die voorbeeld wat ons moet uitleef vir die mense rondom ons. Dis ons elkeen se roeping.

Ai, en hoekom moet daar altyd ’n maar wees. Maar as ek kyk na my lewe … Ek is seker daarvan by jou is daar ook nie ’n lekker prentjie wat opspring as jy na jou lewe kyk nie. Die kolle, ai die kolle!

Tog moet dit ons nie mismoedig maak nie. Ons moet weet dat ons hier in die vuil, maar tydelike kampterrein van die lewe swart besmeer gaan word. Ons moet dit egter nie as ’n verskoning gebruik nie, maar eerder as ’n aanmoediging om elke keer as ’n kol daar sit, na die hemelse wasmasjien te gaan, sodat ons sondes weggewas kan word.

Mag dit vir ons ’n aansporing wees om met groot versigtigheid deur die kamp van die lewe te stap sodat ons al hoe minder kolle optel. Mag ons só vir die ander kampers wys hoe kinders van God moet lewe.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Waar kom daai kolle vandaan?
Wat moet jy daarmee maak?
Hoe kan jy keer dat dit nie weer gebeur nie?

Gebed

Here, help my asseblief om die dinge te vermy wat donker kolle op my menswees kan laat. Help my om só te leef dat U kan glimlag oor elke goeie keuse wat ek uit gehoorsaamheid aan U maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek