God se Woord in vandag se woorde

Kies teen sonde en doen eerder goed


Job was ’n man so na aan God se hart. God was trots op Sy kind, Job. 

Job het vier uitstaande kwaliteite gehad. Hy was ’n goeie en opregte man en het respek vir God gehad. En hy het die kwaad vermy. Die Engelse vertaling sê: “He refused to do evil.” 

Wanneer dit kom by kwaad of sonde doen, het hy bewustelik daarteen geveg. Hy het geweier om die verkeerde afdraaie te vat. Dis seker hoekom die duiwel so gou ja gesê het toe God die duiwel vra of hy vir Job raakgesien het.  

Vir seker het die duiwel hom raakgesien, want hy kon geen impak maak op Job nie. Job het geweier om in te gee vir die versoekings van die duiwel. Keer op keer moes die duiwel druipstert terugdraai en as verloorder uit die stryd met Job tree. 

Job was nie ’n spesiale wese nie. Hy het ook ’n sondige natuur gehad, maar hy het planne gehad om dit teen te staan. Hy het geweet dat daar ’n paar flaws in sy lewe is, maar hy het dit nie gelos en laat staan nie. Hy het bewustelik planne gemaak om nie in die gat te trap en agter verkeerde dinge aan te hol nie.  

Dis dalk ’n goeie voorbeeld vir ons. Ons moet weet dat ons pak gekry het by die sondeval en dat ons gedurig skeeftrek. Die duiwel los ons nie uit nie en span gedurig ’n web om ons te vang.  

Ons moet hierdie web verwag. Ons moet op die uitkyk wees vir hulle en wanneer ons hulle in ons lewe sien, moet ons die strikke met alle kennis en krag systap. Dalk sal God eendag ook breëbors vir die duiwel van ons vertel. 

Daarom moet ons die opdrag ernstig opneem: 11Jy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen. 

Gebruik die energie wat jy sou gebruik by die verkeerde afdraaie van die lewe en wend dit op goeie plekke aan. Gaan soek eerder plekkies waar jy ’n verskil kan maak. Wanneer jy jou energie vir goeie dade gebruik, is jy dalk te moeg om in die verkeerde strate af te draai.  

Net soos jy bewustelik teen die trekkrag van die sonde moet baklei, moet jy ook jou energie vir goeie dade gebruik. Die spreekwoord sê mos ledigheid is die duiwel se oorkussing.  

So as jy net gaan rondlê en niks doen nie, gaan die duiwel nog meer probeer om met jou kop te smokkel en as jy dan nie besig is om goed te doen nie, is die kans goed dat hy dalk sukses gaan behaal.  

Laat ons almal hierdie een ernstig opneem. Laat ons weet dat ons soos ’n stukkie yster aangetrek word deur ’n magneet, aangetrek word om sonde te doen. Laat ons eerder hierdie energie gebruik om goed te doen en ’n verskil in ander mense se lewens maak en so die wêreld ’n beter plek maak.  

Teks
1 Petrus 3:8-11 

Om oor na te dink
Waar pootjie sonde jou?
Hoe kan jy sonde systap?
Waar kan jy goed gaan doen? 

Gebed
Vader, help my om nie in die gat van sonde te trap nie. Wys my waar ek eerder goed kan doen. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.  

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek