God se Woord in vandag se woorde

Koffie vir kersfees


Sjoe, die jaar is amper verby en hier is die laaste Kruispad vir die jaar. 2016 was ’n woelige jaar met ’n hele paar uitdagings, maar ook baie keer goeie nuus wat op ons skerms ingekom het.

So stuur ons nie te lank terug ’n Kruispad uit met die storie van ’n koffiewinkel in Europa waar mense koffie nie net vir hulself bestel nie, maar ook “een vir die muur.” Dié bestelling vir die muur is dan vir minder bevoorregtes wat nie ’n koppie warm koffie kan bekostig nie. Hulle sal dan inkom en ’n gratis koppie koffie van die muur bestel en met waardigheid geniet.

In reaksie op dié koffie-storie kry ek die volgende epos van ’n afgetrede skoolhoof uit Stilbaai:

Ja, Gerjo Ben, koffie kan ’n verskil maak.

Seker so ’n jaar gelede het ek nie al my koffie wat ek saamgevat het as ek met die Melkhoutfontein-kinders gaan visvang, uitgedrink nie. Ek gee toe vir elkeen van die kinders ’n slukkie koffie.

“Maar Oubie, hierdie is mos moerkoffie, kan Oubie nie in die plek van die Coke vir ons koffie bring nie?”

Vanoggend toe ek die koffie in die 3-liter houer maak, het ek nie genoeg suiker nie, ek vat toe ’n blik kondensmelk. Ek vat ook van my vrou se spesiale sjokolade-gegeurde koffiebone en ons gaan vang!

Nie lank nie of dit begin liggies reën en die wind waai. Uit met die swartsakke vir die reën en toe vat elkeen sy eie bekertjie en drink die warm koffie as ’n teenvoeter!

Dit vat so min moeite om dit vir minderbevoorregte mense net makliker en aangenaam te maak!

Ons het 25 visse vir die dag gevang, amper natgereën, lekker koffie gedrink, vir elke kind ’n hamburger gegee en omdat ons die volgende dag die Vredesete vir 1200 mense in Melkhoutfontein het, het ons ook vir elkeen van die vier kinders ’n kaartjie vir die ete gegee.

MAAR dit was die koffie wat in die koue die warm liefde van Jesus oor die kinders uitgestort het, hulle met liefde huistoe gestuur het met die wete dat Jesus-liefde net ’n armlengte van ons almal af is – ek kon dit in die kinders se gesigte sien!

Gaan ek in die toekoms weer iets spesiaal doen? VERSEKER!

Mag ek en jy hierdie feestyd plekkies soek om ook soos die afgetrede skoolhoof ’n paar koffie-verskil-maak oomblikke staan te maak. Onthou: Jesus-liefde is net ’n armlengte van ons almal af!

Ek seën jou graag met die volgende: Mag die genade van ons grote God en die liefde van Jesus en die nabyheid van Sy Heilige Gees orals met jou gaan, ook daar waar jy in ’n koffie-verskil-maak oomblik ander se lewens verander. Amen

Tot weersiens in 2017, DV.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?