Kop af?
Wanneer val mense se wiele af? As die omstandighede waarin ’n mens soms kom net te veel word om te hanteer. Soms gryp ’n mens dan na enige iets wat kan help om kop bo water te hou of soms gee ’n mens net oor.
Ek kan nogal terugdink aan ’n hele paar keer in my lewe wat ek soos ’n mal hoender sonder ’n kop rondgehol het. Ek vermoed dit was kere wat ek nie veel ruimte vir God, Jesus of die Heilige Gees in my lewe gemaak het nie.
As ek maar net meer dikwels die eie ek kan laat slaap en ruimte maak vir God om te heers: 19Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie.
Die beeld van ’n hoender wat al in die rondte tol as sy kop af is, maak vir my sin. Sonder Jesus wat in beheer van ons lewens is, maak ons elke dag keuses wat nie lekker sin maak nie.
Staan ’n slaggie terug en kyk oor jou lewe. Sommige van die prentjies wat ek sien, maak seer. Dit bevat geen wysheid nie en het net my handbriek verder opgetrek. As ek maar net weer kon kies, met dié keer nie myself as die hoof nie, maar Jesus. Sjoe, watter klomp seer en swaar sou ek myself en ander nie gespaar het nie!
So kan ons momente in ons eie lewe, die kerk, die staat, die wêreld neem en sien waar was besluite geneem sonder Jesus wat aan die hoof gestaan het. Chaos! Die ergste is waar juis die kerk (dis nou ons almal), dikwels sonder dat ons dit besef, dinge doen sonder dat Jesus enigsins daarby betrek word.
My hart pyn vir ’n vriend wat ’n mooi kind van die Here is, maar nou deur die oë van sy vrou dit net nie maak nie, omdat hy nie op dieselfde geestelike “vlak” as sy is nie. Godsdiens jaag hulle nou uitmekaar. Is dit wat Jesus wou hê? Beslis nie.
Onthou: 19… Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet.
Ek wonder of die groei van die kerk ’n barometer is om aan te dui of God nog toegelaat word om toe te sien dat alles goed verloop? Miskien moet ek nie die vraag vra nie, want dit sal dalk ’n paar mense ontstel…
Ek besef maar net weer dat Christenskap nie rocket science is nie. Jy hoef nie ’n graad in enige iets te hê om te weet hoe om te lewe nie. Dis eenvoudig: Maak Jesus die hoof van jou wese. Leef Sy genade in die lewe uit. God sal jou toerus en jy sal groei. ’n Groot stewige boom wat rustig in die storms heen en weer sal wieg en wat skuiling sal bied aan die wat dalk sukkel.
Moenie vandag weer soos ’n afkophoender rondhol nie.
Teks
Om oor na te dink
Hol jy rond?
Watter plek neem Jesus in?
Hoe kan jy Jesus ’n meer beduidende plek in jou lewe gee?
Gebed
Jesus, ek het U so nodig! Uit U groei die hele liggaam. Sonder U is ons niks en kan ons ook nie volkome funksioneer nie. Dankie dat U die leiding neem en my leer hoe om te lewe. Amen.