God se Woord in vandag se woorde

Krag vir die mielie in die pad


Na gisteraand se aankondiging deur President Cyril Ramaphosa, besef ons hoe ernstig die COVID-19-pandemie is. Niemand weet presies hoe die wêreld oor ’n maand gaan lyk nie. Al wat ons met sekerheid kan sê, is dat dit heel anders gaan lyk as waaraan ons gewoond is. Dit veroorsaak angs by baie mense.

Tog weet ons dat ons Vader ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Hy sal dit ook nie nou doen nie. Dis tyd om ons geloof in aksie te sit. Ons moet doen wat die Woord sê en vashou aan ons Rots.

Kruispadleser, kom ons word stil en bid vir elkeen in ons land en in die wêreld, want niemand word onaangeraak deur hierdie situasie nie.

Ons bid dat God by jou sal wees en jou sal veilig hou. Mag jy Sy arms om jou voel sodat enige vrees of angs sal verdwyn.

(Om jou te herinner om te bid, maak hierdie rooi kruis jou profile pic, sodat elke keer as jy dit sien, jy jou oë sal toemaak en vir God vra dat Sy genade met ons sal wees.)

Baie seën!

Ns. Deel gerus met jou vriende. Gebed is kragtig. God luister!

Die klokkie lui. Hier staan ’n man wat ek nie ken nie. Hy’t ’n dik pak papiere by hom en steek dit in my hand. Ek begin lees. Ek verstaan nie alles nie, maar ek sien agter êrens my handtekening op ’n rekening-aansoek. My hart klop in my keel. Dis ’n dagvaarding. Die bedrag het klomp nulle, baie meer as wat ek het.

Die spanning klop hard aan my slape. Ek slaap glad nie die nag nie. Later staan ek vroeg op en raak stil. Wie sal ek bel? Wie sal my help om orde in die woeste emosies te skep? Ek slaan my oë op na my skerm. Ek lees: 17Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee.

Ek raak rustig. Die kopseer verdwyn. Die geklop hou op.

Nee, die situasie het nog nie verander nie. Die gevaar dreig nog woes, maar ek sien kans daarvoor, want God het my nie alleen gelos nie. Hy stap hand aan hand met my en lei my op die regte paaie. Soos as ek ’n vriend sou bel om my te help om die dinge uit te stryk.

Maar meer nog, Hy gee my ook die krag om hierdeur te gaan. Sonder sy krag, sou ek myself nie eers uit die bed kon kry om op te staan nie. Maar hier is ek nou rustig en het krag om die bul by die horings te pak.

Sit jy met ’n groot uitdaging op jou pad? Het iemand dalk vir jou ’n groot mielie gerol? Was jy dalk self verantwoordelik of het uit onkunde nie iets gedoen of gesê nie en nou sit jy met ’n pot vol gebakte pere?

Hier is vir jou ook berusting in: God sal jou nooit alleen laat nie. Maak nie saak wat jy aangevang het, of nie gedoen het nie of hoe lank terug jy by God gedraai het nie. God is by jou. Hy wil so graag saam met jou deur dié krisis stap.

Hy wil sy kragbronne vir jou beskikbaar stel. Daar is hope daarvan. Daar is oorgenoeg om die hele wêreld se ligte aan te skakel. Al hierdie krag is ook tot jou beskikking. Neem dit. Gaan prop jouself by God in, sodat Hy jou batterye kan laai om die mielie wat in jou pad gerol het aan te vat.

Hoor hierdie storie van Dina en God se krag:

Ek het na 7 maande van siek wees, vanoggend op Radio Kansel gehoor: die Here gee my nuwe krag en Hy het my hulpgeroep gehoor (Psalm 138 en Jesaja 40:31).

By my skool het ’n kollega wat in die tuin werk, my bemoedig en gesê die Here kan my gesond maak. ’n Ander mede-onnie het op die skoolgrond my omhels en by God gesmeek vir my genesing, terwyl 200 kinders om ons pouse hou. ’n Vriendin-onnie het my toegevou in haar arms en gesê sy is lief vir my. ’n Ander een het my ‘n cupa soup gegee. 

Ek is 10 uur huistoe weens totale uitputting en pyn. Manlief het vir my afspraak by ‘n vreemde dokter gemaak. Die dokter is 84 jaar oud! Hy stel vas dat my hart en longe onder kapasiteit werk weens my hartritme-pille. Hy verander my medikasie. Hy waarborg die pille sal teen Vrydag help. Hy gee my ‘n drukkie en ‘n vaderlike soen voor ek loop.

Teen die aand gaan dit 50% beter as die afgelope jaar.

Al hierdie mense wat ek genoem het, wat net vandag op my pad was en met my bemoeienis gemaak het, is deur God gestuur en dra Sy sticker. Hulle woorde en dade getuig dat hulle vrugte van die Heilige Gees dra.

Kyk God se krag wat werk! Werk deur ander mense. Kyk die genesing, want God is nog steeds hier en Hy werk deur sy Heilige Gees!

God is daar vir jou ook. God sal die mense om jou ook gebruik. Hy sal vir jou krag gee. Ook vir daai moewiese mielie in jou pad!

Teks
2 Tim 4:9-18

Om oor na te dink
Hoe groot is jou krisis?
Glo jy God is by jou?
Glo jy God gee jou krag?

Gebed
Here, ek voel so hulpeloos en alleen. My probleme is meer as wat ek alleen kan dra. Dankie dat U belowe dat U my nie alleen sal los nie. Help my asseblief. Help my ook om te sien hoe U deur ander mense in my lewe werk. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek