God se Woord in vandag se woorde

Krag vir nog ’n dag


Filippense 4:10-20

’n Vriend van my lees die vorige skryfstuk en sê hy stem nie saam nie. Dit lyk so asof Jesus ’n quick fix is. So asof Jesus ’n magic wand oor al ons probleme swaai en woeps! Daar is alles weg.

Nee, ek dink nie dis waarvoor Paulus en ons Christendom staan nie. Ons almal het al net te veel ondervinding om te besef dat sorge en probleme nie sommer net in die niet verdwyn omdat ons Jesus deelmaak daarvan nie. Ja, Jesus is almagtig en Hy kan die berge probleme voor ons in die niet in laat verdwyn, maar dis nie sy styl nie.

As Hy die opdraendes uit ons lewenspaaie wegneem, gaan ons nie veel daarby baat nie. Al is dit nie aldag lekker nie, het ons die swaar nodig om ons te vorm, want sien, as dit heeltyd goed gaan, is die kans goed dat ons êrens langs die pad vir God gaan vergeet. Dis maar net hoe ons is.

Disturbed sing in een van hulle liedjies (https://youtu.be/_LypjOTTH6E): Sometimes darkness shows you the light. Hoe waar is dit nie? Soms is dit juis in die donker tye wat God se lig sigbaar is.

Daarom is dit so belangrik om in alle omstandighede ons krag by God te kry: 13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is. Ja, ons moenie net wanneer dit swaar gaan vinnig na God toe hardloop nie, maar ook in die tye wanneer dit voor die wind gaan.

Eintlik wil ek sê: Juis in die tye wat dit goed gaan, moet ons meer op ons knieë wees, want dit is in dié tye wat ons oë verblind word en ons dink ons kan dit op ons eie doen. Gou word daar met ons kop gesmokkel en ons probeer dit op ons eie doen. Dis dan wanneer ons onttrek van die kragbron. Dis dan wanneer ons petrol opraak en ons in sak en as gaan sit.

In goeie en slegte tye moet ons by God gaan inprop, want daar lê ons krag om elke dag die lewe aan te durf. God sal ons krag gee om die uitdagings wat in ons pad is aan te durf en nee, ek sê nie dat God dit noodwendig uit die pad gaan haal nie – dalk sal Hy, maar die kans is beter dat Hy ons eerder gaan bystaan om die probleme te takel en stukkie vir stukkie, met die krag wat Hy ons gee, uit die weg te ruim.

God sit met hope energie wat ons nodig het om deur die dag te kom. Hy sit met store vol gelaaide batterye. Ons moet net by Hom gaan aanklop en daarvoor vra.

Die Duracell-advertensie van die pienk hasies wat hol, kom by my op. Hoe langer die resies, hoe meer van die ander hasies val uit omdat hulle batterye dit nie hou nie. Die Duracell-hasie hou net aan en aan en niks stop hom in sy gehollery nie.

Ons kan nie die lewe op ons eie krag deurmaak nie. Dit gaan ’n groot gemors afgee. Ons moet by God gaan sit, sodat Hy ons krag kan gee vir die dag. Wanneer ons die krag ontvang, beteken dit nie dat ons nou kan terugsit nie. Nee, nou moet ons eers ons kant bring, want sonder ’n bestuurder sal so ’n hoop energie net chaos veroorsaak.

Prop in by God, kry by Hom jou krag, want dan sal jy vir seker jou opdraendes kan oorwin.

Om oor na te dink

Waar kry jy jou krag?

Prop jy by Jesus in?

Gebruik jy God se krag reg?

Gebed

Here, ek hoor die storie van by U inprop. Ek weet nie altyd presies hoe om dit te doen nie. Ek weet ek het dit nodig. Help my om meer by U voete te sit en U krag deel te maak van my lewe. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?