God se Woord in vandag se woorde

Kroekies braai uit


Ek het al hieroor geskryf, maar ek dink ons moet dit weer vir mekaar sê: Kroekies braai uit! So het ons altyd as kinders gesê. Waar dit vandaan kom, is ek onseker. Maar as ek dit nou moet probeer uitwerk, kom dit seker van ons spelery as cowboys en crooks, waar laasgenoemde die diewe was. Ons het heel waarskynlik kroekies as die werkwoord van crooks geskep.

Wanneer ons sê dat kroekies uitbraai, beteken dit dat verkeerde dade, soos die dade van crooks, die een of ander tyd tog na vore sal kom. Dit is ’n waarheid wat ek menig male aan my bas ervaar het.

By skool was ek gereeld in die moeilikheid en dan kon ek net nie verstaan hoe die onderwyser daarvan te hore gekom het nie. Soos die oggend na die debatsaand. Ons (OK, ek gee toe, dit was net ek – maar ek vermoed onder luide aanmoediging van die res van my vriende) het ons “geliefde” Afrikaanse juffrou se motorband afgeblaas. Toe die wiel omgeruil moes word, was ons natuurlik skoonveld en vol van die lag.

Ek het die volgende môre nog nie eers my voet in die klas gesit nie, toe word ek al na die kantoor toe gedagvaar. Ek weet nie of daar enige woorde tussen my en die hoof gepraat is nie. Ek het maar net getrou my buk-posisie ingeneem en gewag dat die ses houe val. In my gedagtes het ek die een wat my verkla het opgefrommel, maar gelukkig vir hom of haar, het ek nooit uitgevind wie dit was nie.

Êrens langs die pad het ek besef dat verkeerde dade meestal wel aan die lig kom.

Die Bybel sê dieselfde boodskap, dalk net met ander woorde: 12Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie.

Soveel mense praat die een storie, maar doen die ander storie. Soveel keer het mense met die Bybel onder die arm by die besigheid se deure ingestap en in die naam van godsdiens gepraat, maar ai, hul dade was die van die duisternis. Soveel so, dat ons later die manne met die Bybel onder die arm eers fyn deurgekam het voordat ons dit gewaag het om besigheid met hulle te doen.

Die manne het so ernstig gelieg, dat hulle later hulle eie stories as die waarheid geglo het. Die sogenaamde waarheid waaragter hulle aangeloop het, het hulle net al dieper die duisternis ingelok. Daar kom dan ’n dag wanneer die lig van God daarop skyn en al die donker dade verlig. Dan staan die manne skaam, kop onderstebo, as hulle die gemors sien wat hulle aangevang het.

Kroekies braai uit. In die duisternis kan ’n mens vir baie ’n rat voor die oë draai. ’n Mens kan baie wegsteek. Maar êrens langs die pad van die lewe kom God se lig verby en lê ’n mens se dade oop en bloot, vir almal om te sien.

Weet dit. Glo dit. Dit is die waarheid. Leef dan so dat die lig enige tyd in jou lewe kan opdaag en niks kroekies daar sal vind nie.

Teks
Hebreërs 4:12-16

Om oor na te dink
Het jy ’n paar kroekies êrens weggesteek?
Kan jy dit voor God gaan neersit vir vergifnis?
Hoe kan jy keer dat jy dit nie weer doen nie?

Gebed
Vader, ek doen dinge wat nie lekker in die lig pas nie. Vergewe my daarvoor en help my om planne te maak om dit nie weer te doen nie. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek