Kyk op na mekaar
Ek steek dalk my nek nou ver uit en dalk is ’n pak net om die draai, maar lees die stuk uit. Dalk kan ons mekaar êrens halfpad ontmoet.
Die man is die hoof van die huis en die vrou moet 5… onderdanig aan hulle mans (1983-vertaling) wees. Daar is baie wat nie hiervan hou nie. Ek ook nie en ek vermoed dit is so omdat daar ’n groot klomp mans hul rol as hoof van die huis misbruik het.
Baie van hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daar is nie voorgestap nie. Liefde was net daar as hulle dit nodig gehad het. Hulle het net gevat en niks gegee nie. Hulle manier van die lewe leef het geen respek afgedwing nie. En wanneer alles klaar is en die musiek so saggies speel, trek die man die streep in die sand: Vrouens moet onderdanig wees aan hulle mans en doen wat hulle sê …
Te verstane, kon Anel (skuilnaam) dit nie onder haar man uithou nie:
My gewese man was betrokke by my vrouebaas. Dit het groot verwoesting gesaai. Werk, verhoudinge en my huwelik was verwoes. Baie pyn.
Dis nie hoe dit werk nie. Dis nog minder hoe God bedoel het dit moet werk. Die man is nie die vrou se baas nie. Die vrou is nog minder die man se vloerlap. Daarom hou ek baie meer van Die Boodskap-vertaling: 5… Hulle moet ook vir jonger vroue sê om goed na hul gesinne se behoeftes om te sien en om in liefde op te kyk na hul mans.
’n Vrou sal baie maklik in liefde opkyk na haar man as hy vir haar goed is. In dankbaarheid sal sy hom op die hande dra, want hy versorg haar, hy gee vir haar wat haar hart begeer, hy is haar vriend, haar beskermer, die een wat haar uit haar maag laat lag. Dan sal sy hom bewonder en hom vreeslik mis as hy nie naby haar is nie. Sy sal hom graag wil dien.
Eintlik moet man en vrou mekaar dien. Aan mekaar onderdanig wees. En na mekaar opkyk. Dis hoe God dit bedoel het. Ons elkeen moet ons eie resep kry om hier uit te kom.
Martie se geheim:
Met trots kan ek getuig van 30 besondere huweliksjare wat ek en my geliefde Hennie al die pad saam stap. Geloof, vertroue, kommunikasie en baie lag is waarop ons sukses gebou is.
Of Doep s’n:
Ek is so gelukkig om ‘n goeie vrou te hê. Ons is al 22 jaar getroud en het net drie reëls in ons verhouding. Ons gaan slaap nooit kwaad vir mekaar nie. Sy slaan my nie en ek slaan haar nie. Ons is altyd eerlik met mekaar, en as een party aangejaag het dan sorteer ons dit saam uit.
Kom ons leef so dat ons eggenote na ons wil opkyk. Kom ons leef so in ons huwelik dat ander na ons opkyk en God se Naam verheerlik word.
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Hoe lyk jou verhouding?
Waar moet jy ‘n bietjie timmer?
Hoe kan julle weer uit julle maag lag?
Gebed
Vader, U weet die beste. Die dag toe ek en my maat getrou het, was dit ook U wil. Êrens langs die pad het ons ’n paar keuses gemaak wat nie so vars was nie. Dalk het ons aan die slaap geraak en die ander een vergeet. Ek wil weer U wil in my verhouding uitleef. In Jesus se Naam. Amen.