God se Woord in vandag se woorde

Laat ons nog lank lewe


Daar is baie mense wat sê dat ons net vir God moet lief wees en slegs op Hom moet fokus. Want Hy is goed en die wêreld nie. Daarom moet ons nie die lewe hier liefhê nie, want alles hier is boos.  

Dis vreeslik ver van die waarheid. Die lewe is God se genadegeskenk aan ons. Dis juis Hy wat die lewe in ons geblaas het. Dit is juis God wat lewe gee aan ons siel en vir ons die lewe op aarde skenk om die siel van ons aan God toe te wy. 

Die sondeval was ’n groot kinkel in die kabel en het ons hart laat skeeftrek. Op ons eie wil ons eintlik wegtrek van God af en niks met Hom te doen hê nie. Die lewe op aarde is hel sonder God. 

Gelukkig het ons tot inkeer gekom en geluister na die stem van die Heilige Gees. Ons het met ’n hoop genade vir God gekies en ons het besef dat die lewe deur God vir ons as geskenk gegee is. 

Daarom kan ons die lewe liefhê en kan ons droom om solank as moontlik hier op aarde te leef. Jy sien, wanneer ons die prentjie verstaan en weet dat God lewe in ons geblaas het, wil en moet ons elke dag opstaan met Carpe Diem in ons gedagtes en met alles die dag aangryp. 

Dan moet en wil ons seker maak dat ons gesond lewe. Vir hoe baie daag hierdie besef te laat in ons lewe op. As jongmense dink ons mos nie aan ons vervaldatum nie. Ons leef mos asof die lewe vir altyd aanhou, totdat die eerste skeet opdaag.  

Dan word jy ewe skielik bewus dat daar êrens in die toekoms ’n einde is en dat jy so moet lewe dat jy nie met jou eie doen en late die einde nader trek nie. Daarom moet ons kyk wat ons eet en dat ons oefen om die riwwe om ons middel klein te hou. 

Maar hier is nog raad: 10Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie. 

Dis eintlik eenvoudig. Doen die regte ding. Sorg dat die mooie uit jou mond kom. Spreek eerder seën oor mense uit as om hulle naam met modder te smeer. Praat altyd die waarheid en los die grys areas uit.  

Baie keer beswadder ons ons eie lewe met onwaarhede. Dit kweek onkruid in ons eie lewe en dan voel ons nie goed oor onsself nie. Met die netto effek dat ons ook nie eintlik meer so lank op die aarde wil wees nie. 

Kom ons probeer om die goeie te versprei deur die manier waarop ons optree, maar ook deur die woorde wat hier via ons lippe die wêreld in gesaai word. Kom ons kyk waar ons ’n goeie geur kan afgee. 

Dan sal mense graag met ons wil skouers skuur. Dan sal dit vir ons lekker wees om te sien hoe ander ons geniet en dan sal ons vir seker nog langer hier wil lewe. Mag dit waar wees vir elkeen van ons en mag ons almal nog ’n baie lang en gelukkige lewe leef. 

Teks
1 Petrus 3:8-11 

Om oor na te dink
Hoe lyk die woorde wat daar by jou mond uitkom?
Smag jy na ’n lang lewe?
Is jy op die roete? 

Gebed
Vader, ja, ek smag na ’n lang lewe om nog ’n groot impak op die wêreld te maak! Amen. 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek