God se Woord in vandag se woorde

Lag in die swaar


Filippense 3:1-3

1… moenie dat enigiets julle onderkry nie. Wees altyd oortuigend en opgeruimd. Julle is mos Christene wat die Here ken.

’n Vriend van my kom kla by my. Hy vertel van 20% van sy mense wat eenvoudig net nie opdaag vir werk nie. Sy duur masjien het net 15 minute gewerk en toe gaan staan die een pomp. Drie van sy kliënte het geskakel en was briesend oor produkte waarvoor hulle wag. So noem hy nog ’n paar voorbeelde. Ek kan sien hy kry baie swaar.

Hy sê hy moet bieg dat dit nie maklik is om staande te bly nie! Die druk wil jou knieë laat knak. Dis in sulke tye wat ons sommer hardop moet sê dat niks ons sal onderkry nie. Ons moet net staande bly. Dit is mos wat die Woord van God van ons verwag.

Ek kan met baie van sy real life stories identifiseer. Dalk jy ook. Miskien is daar ’n klomp areas in jou lewe waar dit ook nie voor die wind gaan nie en waar jy ook sukkel om staande te bly.

Die swaarste van alles is om te bly glimlag. Dit is asof die swaar wat met ons gebeur, ons glimlagte kom steel. Ons kan eenvoudig net nie glimlag en vriendelik wees as ons aan die een kant swaar trek nie. Ek wonder of dit die spanning is wat ’n mens laat ophou glimlag.

Dalk is dit juis die probleem: Ons glimlag word bepaal deur ons gemoedstoestand of deur hoeveel swaar ons op daardie tydstip met ons saamsleep. Dit is egter nie reg nie. Al werklike rede hoekom ons moet glimlag, is omdat ons die Here ken. Dis mos wat die vers sê: 1… moenie dat enigiets julle onderkry nie. Wees altyd oortuigend en opgeruimd. Julle is mos Christene wat die Here ken.

Tog dink ek nie God verwag van ons om deur dik en dun te glimlag en nie eens ’n traan te stort nie. Ons is maar net mens en ons word geraak deur dinge wat met ons gebeur. Maar al beïnvloed dit ons gemoedstoestand, moet ons ons nie laat onderkry nie.

Wanneer ons dan met ons gemoed in die hek duik moet ons keer op keer onsself herinner dat ons ’n Here het wat ons sal help. Ons moet weer die vrede vind om te kan lag.

Nou ja, dit werk nie elke keer nie en dit is maar ’n gesukkel om die gemoed te lig. Maar tog leer ons om voortdurend met God te praat en soms sit dit die glimlag terug op ons gesig.

Die grootste ding wat ons kan leer, is dat die glimlag op ons gesig die gevolg is van ons identiteit. Ek weet ek is ’n Christen. Ek weet dat ek ’n ongelooflike Vader en Here het wie se Gees my nooit alleen los nie. Dit is iets om oor te glimlag! Wanneer ’n mens dit hier binne jou hart verstaan en regtig uitleef, sal geen swaar dit regkry om daardie glimlag van jou gesig af te haal nie!

Probeer vandag om die glimlag op jou gesig te hou. Konsentreer op God en sy betrokkenheid in jou lewe. Praat met God oor die curve balls wat na jou kant toe gegooi word. Leer by God. Stap die pad hand aan hand en jy sal iets kry om oor te glimlag.

Om oor na te dink

Hoe lyk jou vreugdevlakke?

Verdwyn jou glimlag soms?

Wie of wat vorm jou identiteit?

Gebed

Vader, dankie dat U my vandag herinner dat niks my kan onderkry nie, want die wete dat U altyd langs my stap, maak die swaar draagbaar. Ek weet ook dat U groter is as enige probleem wat na my kant toe kom. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?