God se Woord in vandag se woorde

Leef soos God my sien


Wat sal jou antwoord op die volgende vraag wees: Wat het Jesus vir jou aan die kruis op Golgota gedoen? Die meeste mense se antwoord is dat Hy vir hulle sondes kom sterf het of dat Hy hulle pak kom vat het vir al die sonde wat hulle gedoen het.

Die antwoorde is mooi in die kol, maar eintlik het Jesus baie meer op die kruis kom regkry as net om vir ons sondes te sterf. Hy het ons wat Hom as Verlosser aangeneem het, heilig kom maak.

Sjoe, dit klink nogal erg, as ’n mens moet dink ons is nou heilig.

In gewone Afrikaans kan ’n mens sê dat heilig beteken om skoon en aan God gewy te wees. Maar ook om afgesonder te wees, eenkant gesit te wees, apart, net vir God.

Ek sukkel om dié prentjie van myself te sien.

As ek na Jesus kyk, ja, dan sien ek presies die prentjie. Jesus was die perfekte voorbeeld van heilig. Hy het geen sonde gehad nie. Hy het alles presies gedoen soos God wil hê. Hy was selfs bereid om die ekstra swaar Via Dolorosa te stap.

Vir seker was Hy afgesonder vir God en het net gedoen wat God van Hom verwag het. Jesus is die perfekte voorbeeld van heilig en skoon.

En ek nie …

Dit is egter net ek wat myself so sien. Jesus en God sien vir my en jou wat in Hulle glo, op ’n ander manier: 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. (1983-vertaling)

Vir Jesus is ons net soos Hy. Hy sien ons as Sy broers en susters. Omdat ons dieselfde Pa het, sien Jesus ons as bloedfamilie. Dit is juis Sy bloed aan die kruis wat die familieband moontlik maak.

Ietsie begin vir my sin maak. Ek vermoed ek, of dalk my ouer broer, was die stoutste in ons gesin. Tussen die twee van ons, was ons gereeld in die moeilikheid en moes die rottang gereeld vervang word.

Maar niks wat ek en my broer gedoen het, kon ons uit ons gesin uitskop nie. My suster kon nie kom en sê, nee, nou is ek te skaam vir alles wat julle aanvang, ek is nie meer jou suster nie. Niks wat ek kon doen, kon my van van my wegneem nie. Deur alles het ek ’n Van der Merwe gebly.

Net so kan ek niks in hierdie wêreld aanvang wat my van my hemelse familie ontneem nie. Niemand kan sê, jy doen nou te veel sonde, Jesus is nou nie meer jou broer nie. Die Bybel sê mos niks kan jou uit die hand van die Vader ruk nie.

Dit is sulke goeie nuus!

Ek vermoed ek en jy moet net meer onsself deur God se oë sien en sien dat ons heilig en afgesonder is, en dalk meer so probeer lewe.

Teks
Hebreërs 2:10-13

Om oor na te dink
Hoe sien jy jouself?
Hoe sien God jou?
Leef jy so?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek sukkel om myself as heilig te sien. Help my om myself so te sien en so te lewe. Dankie vir my broer, Jesus, wat voor loop. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek