God se Woord in vandag se woorde

Lekker rus


Toe ek nog op die plaas was, het ek baie gesukkel om op te staan. Ek wou so graag tyd maak om by die Here se voete te sit, maar ai, dit was darem net te lekker knus daar tussen die lakens.

Toe staan ek een oggend met ’n idee op. Vra vir God om jou wakker te maak. Ek doen dit toe, maar vergeet om ’n tyd by te sit. Nou kan ek enige iets van 03:00 af wakker wees. Dan staan ek maar op en begin my dag reg.

Maar die afgelope tyd het my innerlike klok heeltemal die gees gegee. Nog voor 01:00 het my slaap opgeraak. Ek kan nie so lê en rondrol nie en staan dan ook maar op en begin werk. As die ander mense wakker word en regmaak om op te staan, is ek al verby middagete.

Nou begin ek ernstig amps trek, want ek het nie genoeg energie tydens my kort slaap bymekaargemaak nie. Vanaand om 20:00 val my oë toe, net om skuins na 01:00 weer wawyd wakker te lê.

Dis nie ’n goeie sirkel nie. Ja, ek kry gelukkig baie gedoen, maar ’n mens se liggaam het rus nodig. Goeie rus. Die mense wat weet, sê dat jy tussen sewe en nege ure per nag moet slaap. Ek moet bieg, ek is nader aan vyf …

God het ons mens se liggaam so gemaak dat dit gereeld “gelaai” moet word. Amper soos die nuwe elektriese motors. Nadat die motors ’n ent gery het, moet dit eers by die prop ingedruk word om die batterye te herlaai.

God het ons egter ook gemaak vir ’n groot rus na ons lewe hier op aarde verby is. 8Hierdie rus wat God aan mense beloof het, is nie die rus wat Josua vir die Israeliete gegee het toe hy hulle in Kanaän ingelei het nie. Dan sou God mos nie jare later deur Dawid weer van ’n ander dag (die “vandag”) gepraat het nie. 9Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus …

Dit was ’n groot gesukkel om die Israeliete onder die ysterhand van die farao te bevry. Die volk van God het so uitgesien om uit die ballingskap uit te kom en ek is seker daarvan dat hulle uit hulle velle gespring het toe hulle deur die Rooisee is.

Maar die rus het hulle nog ontwyk, want vir 40 jaar het hulle om en om in die woestyn getrek. Ek vermoed dit was as gevolg van hulle eie hardkoppigheid. Vir die meeste mense wat uit Egipte getrek het, het die beloofde land met sy lekker rus nooit opgedaag nie, want hulle is in die woestyn dood.

Vir die wat egter die beloofde land ingegaan het, was dit ’n besonderse tyd van vrede en rus. Dit het goed gegaan met die kinders van God. Soort van ’n kersie op die koek.

Die rus wat God ons egter belowe, is baie meer as die rus. Elke kind van God kan uitsien na ’n ewige rus. ’n Tyd waarin ons nooit weer hoef te werk nie. ’n Tyd waar ons nooit hoef te baklei teen die aanvalle van die bose nie. ’n Tyd waar ons niks hoef te doen om aan die lewe te bly nie. Al wat ons moet doen, is om te rus en dit stukkie vir stukkie te geniet.

Dis werklik iets om na uit te sien. En natuurlik is dit nou ons verantwoordelikheid om seker te maak om nie dié bus te mis nie.

Teks
Hebreërs 4:7-11

Om oor na te dink
Sien jy uit na die rus?
Jy seker dat jy eendag daar gaan uitkom?
Hoe moet jy nou maak?

Gebed
Hemelse Vader, ek het daardie rus so nodig. Ek is moeg. Help my om nou by U te kom rus. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek