Lewe in ander se oog
Ek het ’n mentor en hy help my regtig baie. Daar is dikwels vrae wat oor my pad kom wat ek nie ’n clue het hoe om te beantwoord nie. Dan klop ek by my mentor aan. Hy gee my die meeste van die kere nie ’n reguit antwoord nie, maar begelei my om op die ou end by my eie antwoord uit te kom. Ek het baie respek vir hom.
Maar sy hulp kom op maniere waarvan hy nie eens weet hy ’n bydrae tot my lewe maak nie. Jy sien, daar is dinge wat ek nie in sy teenwoordigheid sal doen of sê nie. Soos bv. ’n grap wat nie 100% skoon is nie, sal ek nooit in sy teenwoordigheid vertel nie.
Ek gebruik ons verhouding nou as ’n meetsnoer. Orals waar ek kom, tussen vriende en kennisse en selfs by vreemdes probeer ek altyd optree soos wat ek in die teenwoordigheid van my mentor sou optree.
En lyk my dis presies wat Paulus vir sy vriende van Filippense vra: 12My liewe broers en susters, dit wat ek nou net gesê het, is belangrik. Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie! Onthou, God hou julle dop.
Ons mense is so. Voor ons ouers tree ons anders op. Ek onthou toe ek begin rook het, wou ek nooit voor my ma rook nie. So sit ek en my broer een middag en rook in die TV-kamer. My ma kom onaangekondig daar in. Stadig laat sak ek my hand en druk die sigaret ongemerk dood in die asbakkie wat langs die bank staan – of so het ek gedink. Toe my ma uit is, lig my broer my in dat ek die asbakkie gemis het en die stompie op die mat doodgedruk het. Aijaijai!
Eintlik is dit darem baie stupid om so verskillend voor mense vir wie jy respek het op te tree, want ons is elke oomblik van die dag in God se teenwoordigheid. Die Heilige Gees is in elkeen wat glo en daarom weet God van elke move wat ons maak.
God hou ons dop is so bietjie van ’n harde vertaling, want vir my klink dit asof Hy ons afloer en nie kan wag om ons uit te vang as ons iets verkeerd doen nie. Nee, God is nie so nie. Eintlik dink ek God is presies die teenoorgestelde.
Toe ek nog by die fabriek was, het ek altyd die mense in leiersposisies aangemoedig om nie hulle mense met ’n valkoog dop te hou en te probeer “uitvang” waar hulle verkeerd doen nie. Nee, ek het hulle geleer om te kyk waar hulle mense kan “uitvang” wat goed doen en hulle dan dienooreenkomstig daarvoor te prys.
Dis wat God ook doen. God, wat die heeltyd in ons teenwoordigheid is, wil ons aanmoedig om die regte dinge te doen. Hy doen meer as net loer. Hy is ook betrokke en wil ons leiding gee om reg op te tree in alles wat ons doen.
Paulus por ons nog meer aan: 12… Doen daarom alles wat julle kan om te lewe soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke.
God is deel van ons lewe. God hou ons nie dop om ons uit te vang wanneer ons verkeerde dinge doen nie. Nee, Hy wil ons eerder help om die regte keuses te maak. Kom ons leef ’n lewe waar ons nooit hoef skaam te wees vir die mense in wie se teenwoordigheid ons is nie.
Om oor na te dink
Is jy skaam oor jou lewe?
Hoe ervaar jy: God hou jou dop?
Gee jy ruimte vir God om ’n inspraak in jou lewe te maak?
Gebed
Vader, baie dankie dat ons kan weet dat U self by ons elkeen se lewens betrokke is. U Woord leer ons om U wil te doen. Dankie dat U met liefdevolle oë na ons kyk en ons lei op die regte pad. Amen