God se Woord in vandag se woorde

Liefde is als


Dis nie net Paulus wat ’n goeie CV van Epafras gee nie, maar hy bring ook goeie nuus van die mense van Kolosse: 8Dit is juis by hom dat ons gehoor het hoe lief julle mekaar het. God se Gees werk mos in julle.

Dis eenvoudig en tog sê dit so baie. Hulle leef werklik hulle liefde teenoor mekaar uit. ’n Jong gemeente wat presies verstaan waaroor die evangelie gaan: liefde. As ons liefde kan uitleef, werk alles soos dit moet. Dan is daar harmonie en ons het ruimte vir mekaar. Dan byt ons nie mekaar se koppe af en wil net meer en meer vir onsself vat nie.

Ek wens ons kon dit ook regkry. Ek wens ons kon die liefde so uitleef dat daar harmonie is. Maar ongelukkig sien ek dit nie altyd om my raak nie. Hoekom kry die mense van Kolosse dit dan reg? Ek vermoed hulle weet wat dit beteken om oor te gee aan die Heilige Gees. Hulle verstaan wat dit beteken om die Heilige Gees ruimte en kans te gee om hulle lewens oor te neem. Hulle lewe onder die beheer en bestuur van die Heilige Gees. Wanneer dit gebeur, is die netto effek liefde. Dade uit liefde is die resultaat en maak werklik ’n verskil.

Ek leer baie by Ella oor liefde:

Ek het my man na ’n huwelik van 39 jaar aan die dood afgestaan. Hy was 40 dae in intensiewe sorg in die hospitaal.  Nooit kon ek huil nie, want ek ken die Here en snaaks genoeg – gisteraand voor ek gaan slaap, vat ek my een minuut oordenkingsboek en lees sommer hier en daar in die boekie in elke maand ’n dagstukkie.

En wonderbaarlik maak ek toe die boek oop op 30 November: Die liefde is onsterflik, die liefde vergaan nooit nie.

En al die tyd toe my man in die hospitaal was, het ek hom van my liefde verseker en elke keer as ek na ’n besoektyd moes huis toe of werk toe gaan, het hy my hand gehou en wou nie hê ek moes gaan nie. Elke keer het ek hom verseker dat hy nie alleen in die hospitaal agterbly nie en dat ek hom in Jesus se hande los en niks sal gebeur voor ek weer terugkom nie. En dat ek by hom sal bly solank hy my sou benodig. Wat ek ook toe gedoen het, tot die einde.

Liefde oorwin die pyn van die dood. God se liefde sal in ons geval ook die dood oorwin. Die hoogtepunt van ons aardse lewe is wanneer ons die liefde ontdek wat die vrees vir die dood laat wyk.

Liefde is die een ding wat ons aan onsterflikheid laat glo. God is onsterflik en God is liefde, daarom is die liefde onsterflik.

Nou verstaan ek hoekom ek nie kon huil nie, want ek het hom so liefgehad dat ek bereid was om hom aan God af te staan.

Ella het toegelaat dat die Heilige Gees oorneem. Sy leef liefde uit, maar meer nog: Sy verstaan hoe liefde werk. Hoe mooi is dit nie: Liefde oorwin die pyn van die dood. Liefde is onsterflik.

Mag ek en jy meer ruimte maak vir die Heilige Gees, want dan sal die liefde oral om ons die teer slaan. Dan sal ons in tye van groot krisisse rustig kan wees. Dan sal ons ’n verskil maak, want dit is wat liefde doen.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:1-8

Om oor na te dink

Hoeveel liefde deel jy uit?

Hoeveel ruimte het die Heilige Gees?

Waarmee sukkel jy?

Gebed

Vader, ek het die liefde so nodig. Ons wêreld het U liefde so nodig. Mag U met U Gees in en deur ons woel, sodat liefde meer sigbaar word in die wêreld. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?