Liefde uitleef
Paulus help vir Titus op die pad en gee riglyne hoe mans, en natuurlik vroue, hul geloof prakties moet uitleef. 2Verduidelik vir die ouer mans dat hulle nie mag toelaat dat die sonde hulle aan die slaap sus nie. Hulle moet so leef dat ander mense groot respek vir hulle het. Hulle moet met wysheid optree. Hulle moet onwankelbaar in die Here glo, sy liefde uitleef en volhard op die regte pad.
Sjoe, die teks is gelaai. Ons staan nou vir die vyfde keer by hom stil. Dié keer by die liefde uitleef. En by liefde uitleef het ons al so baie stilgestaan. Daarom eerder net die storie van Kobus:
My vrou het lupus en dit vat baie hard aan haar. Dit is ’n siekte wat nie kan genees word nie, maar net in remissie gebring kan word.
Dit laat baie snaakse dinge deur haar kop gaan. Sy lees gereeld van mense wat skei en selfdood pleeg a.g.v. die siekte.
Ek het vir haar gesê ons was al 31 jaar getroud en ken mekaar seker al 37 jaar. Daar is nie ’n manier hoe ek haar sal los om alleen deur hierdie tyd te gaan nie.
Ek het ’n belofte op ons troudag gemaak en sal by haar staan tot die dood ons skei.
My oorlede ouers het my geleer om altyd ’n voorbeeld te stel vir ander mense. Ons moet ’n voorbeeld vir ander wees.
Dankie Kobus, vir jou voorbeeld. Dankie dat jy vir ons wys hoe ware liefde lyk. Liefde waar die self eers terugstaan. Liefde wat opoffer.
Dis soos Jesus se liefde. Ware liefde wat bereid is om Homself aan ’n kruis te laat hang, te sterf, en dit vir ’n klomp sondaars soos ons.
Dankie dat ek Jesus se liefde in jou manier van lewe kan raaksien.
Mag dit waar wees en waar word in ons almal se lewens.
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Leef jy liefde werklik uit?
Kan ander Jesus se liefde in jou lewe sien grondvat?
Waar druk dit in jou om liefde te gaan uitleef?
Gebed
Jesus, geen beter voorbeeld van liefde kan ons leer ken as in U nie. U, wat bereid was om vir ’n hoop sondaars te sterwe. Ek wil ook soos U en soos Kobus liefde leef. Ek wil ’n verskil maak. Ja, ek sal ook myself gee. En nou is ek bang dat ek dit gebid het. Help my tog! Amen.