God se Woord in vandag se woorde

Liefde vee sonde af


’n Vriend van my stuur vir my ’n même met die volgende woorde op: “Being taught to avoid talking about politics and religion, has led to a lack of understanding of politics and religion. What we should have been taught, was how to have a civil conversation about a difficult topic.”

Baie keer vermy ons die moeilike onderwerpe en hoop hulle verdwyn êrens in die mis. My vrou sê altyd: “Things buried alive, stay alive”.

Vir Paulus kan ons nie hiervan beskuldig nie. Hy is nie bang om enige onderwerp aan te spreek nie. Selfs dit waaroor baie nie wil gesels nie. Hy praat reguit en wil hê dat sy hoorders die verkeerde dinge heeltemal uit hul lewens moet roei: 3Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos. Seksuele begeertes het ons vernietig. Haat en geweld was ons meester. Ons het ander mense niks gegun nie.

Op ‘n manier word ’n lys met verkeerde dade voor ons gesit en ons moet kyk watter van die dinge het weer deel geword van ons lewe. Het ons dalk begin prentjies kyk? Het ons êrens ’n wrok teen iemand begin bou? Gun ek ander goeie dinge?

Ons moet gedurig met onsself ’n gesprek hê, om seker te maak dat ons nie dalk toegelaat het dat liefde by die agterdeur uitgesluip het en dat haat by die voordeur ingestap het nie. Onthou, as liefde wegraak, vul haat outomaties die leë plekkie.

Liefde is die gom wat mense aanmekaar vashou en as dit nie daar is nie, val hulle uitmekaar. Soos Mannetjies (skuilnaam) aan sy lyf ervaar:

Ons sê mos altyd ek het nog so baie om voor dankbaar te wees.

Ek net ’n klaar betaalde, mooi huis.

My yskas is vol.

Ek het ‘n klaar betaalde, pragtige voertuig.

My kinders is slim, geleerd en opgevoed.

Ek het ‘n gesonde besigheid met ‘n groot omset.

MAAR MY VROU HET MY NIE LIEF NIE!

Hoe kan jy dan positief wees? Want die liefde van jou vrou is belangriker as al die bogenoemde goed!

Ons moet die liefde in ons verhoudings oppas. Ons moet seker maak dat dit nie by die deur uitloop nie, want dit wat sy plek kom neem, verwoes. Mag God ons help. Mag Sy Gees saam help keer dat ons nie teruggaan na ons vorige lewe nie. Mag ons Jesus se vergifnis ontvang en gaan uitdeel oral waar dit nodig is, want vergifnis verdryf haat en maak plek vir liefde.

Teks
Tit 3:3-7

Om oor na te dink
Watter verkeerde dinge is daar in jou lewe?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Waar moet jy meer liefde saai?

Gebed
Vader, wys my waar ek sonde in my lewe toegelaat het. Help my om hiervan ontslae te raak en weer rein voor U te leef. In Jesus se naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek