God se Woord in vandag se woorde

Los die babakos


Wanneer ons op toer is, bly ons altyd daar by die Koektannie in Bloemfontein oor. Dis nou van daai gawe mense wat nie kan ophou goeddoen nie. Sy kan kook soos my ma gekook het en haar bynaam is nie per ongeluk Koektannie nie. Wanneer ons vra of ons kan oorstaan, sê sy nie ja nie, sy vra ’n volgende vraag: Watter soort koek moet sy vir ons elkeen bak?

Dit gaan geil as ons daar is. Sommer met die aanland, kry ons Sondagmiddag se boud, aartappels en groente. Vir nagereg, ’n groot sny wortelkoek. Dan word die vuur opgesteek om tuisgemaakte sosaties te braai. En so gaan dit elke dag. Jy moet omtrent ’n week vas om die skaal weer op normaal te kry.

’n Man se maag moet tydens die week ekstra hard werk om alles weg te werk. Gelukkig help die oggend se vars jogurt en stukke vrugte met die taak. Ons is darem groot manne wat ’n klomp energie deur die dag benodig en verbrand dus baie maklik die vrag kos.

As jy egter die ernstige kos vir ’n klein kindjie of baba gee, gaan hulle sukkel om dit te verwerk. Hulle sisteme is nog nie so ontwikkel om die vragte kos in energie om te skakel nie. Hulle maagsappe nog te einatjies om eers ’n happie vleis te verwerk. Daarom dat ’n baba eers net melk en later pap en nog later fyngedrukte, opgekookte groente mag eet.

En hiervan gepraat. Ek wonder wie werk die resepte vir Purity-babakos uit, want ek weet nie hoe ’n baba dit oor sy lippe kry nie. Maar wag, ek is al weer van my storie af.

Nadat ek verlede week by die Koektannie was, verstaan ek die volgende verse baie beter: 13Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie. En iemand wat dit doen, is nog ’n babatjie in die geloof. Hy weet nog nie eens mooi wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie. 14Vaste kos is bedoel vir grootmense, ook op geestelike vlak. Hulle het al in die lewe geleer om te weet wat goed en wat sleg is.

Hoekom sal ’n mens nou op geestelike terrein babas bly? Ek vermoed dit is wanneer Christene nie hulself in hul geloof instudeer nie. Hulle lees so nou en dan ’n dagstukkie of teksversie. Stuur ’n skietgebedjie in die lug in op en hoop dit word êrens gehoor en gaan dan met hul gewone manier van lewe aan.

Op die manier groei ’n mens se geloof nie. Dan bly jy maar wonder oor jou geloof en as die windjie oor die horison opstoot, begin twyfel jou toeslaan. Om ander mense se hand te neem en deur ’n krisis te help, is glad nie op die kaarte nie.

Ons moet meer tyd opsy sit om in ons geloof te groei. Ons moet meer tyd in God se Woord spandeer. Ons moet meer luister en kyk na manne en vroue van God wat die roeping het om ander te leer. Daar is hordes van hulle op die TV en internet.

’n Goeie bord boerekos is baie beter as babakos (veral Purity!). Daar is soveel om te ontvang as ons in ons geloof groei en soveel lekkerder. Laat ons dan erns maak met ons geloof. Laat ons ons babaskoene uitskop en grootword in ons geloof. Dan sal ons ander ook kan help.

Teks
Hebreërs 5:11-14

Om oor na te dink
Is jy nog op babakos?
Eet jy al vaste kos?
Hoe nou gemaak?

Gebed
Vader, ek wil die babakos-dinge nou los. Ek wil meer tyd saam met U spandeer. Ek wil meer vir ander beteken, maar ek weet ek sal anders moet lewe. Ek wil en ek sal en ek gaan. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek