God se Woord in vandag se woorde

Lyding bring oorwinning


God en Jesus se plan om die wêreld van verderf te red, was nie ’n maklike een nie. Daar moes deur baie seer en swaar gegaan word.

Bloot die feit dat Jesus die hemel moes verlaat, was reeds baie erg. Ek dink nie ’n mens kan presies verstaan hoe swaar dit vir Jesus moes wees om as God “af te daal” en binne ’n mens se liggaam te klim nie. Dit het Hom ingeperk. Om mens te wees, staan eintlik aan die ander kant, by die ander pool.

En tog was Jesus bereid om dit te doen.

Deel van die pakkie was swaarkry. Jesus kon nie ’n ander, makliker plan kies nie. Nee, vir die verlossing van die mens om te werk, moes Hy eers die swaar pad stap. Die menswording. Die vernedering. Op gespoeg word. Uitgemaak as leuenaar en nog ’n klomp boosaardige titels wat die mens om Sy nek gehang het.

Hy kon nie hier verbykom nie. Hy moes eenvoudig hierdie swaar pad loop.

10…daar is niks mee verkeerd dat Hy Jesus laat ly het sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Jesus absoluut volmaak is nie. Jesus is immers die Een wat mense moet red.

Jesus moes ly om die verlossing vir die hele mensdom te bewerkstellig. Die 1983-vertaling sê dit nog meer reguit: 10as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.

Jesus bewerk die mens se saligheid deur lyding. Jesus is die kaptein van redding. Hy is die outeur en samesteller van die reddingsplan vir die mens. Maar ongelukkig is lyding al die pad deel van die pakkie.

Ons ry die punt van lyding en swaarkry oor en oor om te besef watter opoffering dit werklik vir Jesus was. Dit was nie sommer net ’n vinnige plan wat uitgerol is nie. Vir God se plan om te werk, moes Jesus ’n baie moeilike pad stap.

Ek is dankbaar dat Jesus die wysheid en krag gehad het om dit te doen.

Dit gee my moed vir my pad. Baie keer moet ons ook ’n pad stap waar dit nie maklik is om by die oorwinning uit te kom nie. Baie keer kan ons nie by die oorwinning kom, voordat ons eers ’n moeilike pad gestap het nie.

Dalk sit jy nou op ’n moeilike plek in jou lewe. Dalk het jy glad nie daarvoor gevra nie en was dit nie deel van jou beplanning nie. Dalk kan jy niks voor jou sien nie en sit jy in sak en as.

Ja, God het dit nie gereël nie, maar as ek so na Jesus se verlossingsplan kyk, is jy nou besig om die een gedeelte van die pad deur te worstel, sodat jy by die oorwinning kan uitkom. Die meeste van die kere het ons die swaar nodig om by die oorwinning uit te kom.

Daarom, hou vas en hou uit. Druk deur en glo en hoop, want op die tweede gedeelte van die reis, is die oorwinning.

Teks
Hebreërs 2:10-13

Om oor na te dink
Waar is jou swaar?
Sien jy lig?
Glo jy dat die oorwinning om die draai is?

Gebed
Vader, ek kry swaar. Ek kan nie meer nie. Wil U nie die oorwinning gou bring nie? In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek