God se Woord in vandag se woorde

Maak ander se las ligter


Covid het iemand in ons binnekring se lewe geëis. Hy was soos ’n seun in ons huis en soos ’n broer vir ons kinders. Hy het vir ons gewys hoe ’n mens rêrig liefde in die wêreld moet uitleef. Boeta was ’n jongman met Downsindroom en op sy manier was hy vir my ’n mentor.

Sy ma vertel dat daar eendag ’n man verby hulle huis gestap het. Boeta het na die man toe gestap en net twee sinnetjies vir hom gesê: “Ek is lief vir jou” en “Jesus is lief vir jou.”

Eers jare later kom iemand en vra of hulle weet wat die dag gebeur het? Hulle sê dat hulle niks van die gebeurtenis weet nie. Die persoon vertel hulle toe dat die man op pad was om selfdood te pleeg, maar na Boeta met hom gepraat het, het sy lewe handomkeer verander. Die liefde wat daar vanuit Boeta gestraal het, het hom anders na die lewe laat kyk.

By elke plek waar hy ingestap het, het hy mense gedruk en gesê hoe lief hy vir hulle is. Almal by die Spar het hom geken en toe hulle hoor hy is nie meer daar nie, het die vrou agter die till in trane uitgebars.

Hy was my mentor wat my gewys het hoe om te loop. Hoe om te maak. Hy het gewys hoe ons die opdrag van Jesus om liefde te gaan uitleef, ’n werklikheid in die lewe te maak.

Hy het presies gedoen soos die skrywer van Hebreërs gesê het ons moet doen: 13Loop julle lewenspad met soveel oortuiging dat die mense wat agter julle aankom en maar ’n bietjie sukkel, hulle gesukkel sal afgooi en met net soveel oortuiging as julle hulle lewenspad verder sal loop.

Hy was voorwaar iemand agter wie ons kon aanstap. Hy het voorwaar mense gehelp wat sukkel. Hy het hulle lewe opgehelder. Selfs iemand wat nie meer wou lewe nie, gewys waar rêrige liefde te vinde is.

Hoe loop jou lewe? Hoe maak jou treë deur die wêreld? Wil mense graag agter jou aanstap of vermy hulle jou? Raak mense se las ligter of is dit juis jou manier van stap deur die wêreld wat ander swaarder laat kry?

Sjoe, dis nie maklike vrae nie.

Mag ons met hierdie teks onder die arm so bietjie retrospeksie doen. Laat toe dat die voorbeeld van Boeta se lewe soos ’n vergrootglas oor jou lewe skyn en kyk waar jy dalk anders moet lewe.

Maak doelbewus ’n paar aanpassings. Haal die paddas uit die pyp. Sit die eie ek opsy en kyk hoe Jesus dit gedoen het. Gaan doen jy dan ook so en help om ander se las ligter te maak. Help hulle dra. Tel die las vir hulle af, sodat hulle ook opgewonde deur die lewe kan loop. Kom ons gaan maak ’n daadwerklike verskil in die wêreld.

Teks
Hebreërs 12:12-14

Om oor na te dink
Hoe lyk jou loop deur die wêreld?
Waar moet jy anders?
Waar kan jy ander se las ligter maak?

Gebed
Here, help my om ander mense met woord en daad lief te hê. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek