God se Woord in vandag se woorde

Maak die brieke los!


Filippense 3:12-16

Ek wonder of dinge uit jou verlede ook kort-kort ’n draai by jou kom maak net om jou spoed te breek. Sommige kere sommerso uit die niet, ander kere gebeur dit wanneer jy in ’n soortgelyke situasie kom of wanneer jy in die omgewing kom waar jy die fout begaan het.

As ek daar op die N2 naby Riversdal verby ry, kry ek op presies dieselfde plek so ’n kol op my maag. Dit voel of ek die stuurwiel kan slaan van frustrasie, want sien, ek onthou die fout wat ek gemaak het.

Ek het in my studentedae bus gery vir InterKaap en die betrokke nag was ek in beheer van die busse. Naby Riversdal het een van die busse gaan staan. Met my beperkte kennis maak ek die enjin oop en besef daar kom nie diesel deur nie. Ek ruk die spanners uit, sit nuwe diesel filters in, bloei dat die diesel in ’n straaltjie spuit, maar ek kry nie die refs van die bus op nie. Die tyd stap aan en die mense raak onrustig.

Die fout wat ek gemaak het, was om nie die passasiers van die bus oor te plaas na die ander busse nie. Dan was twee-derdes van die mense darem betyds. Op die ou end was al drie busse se mense laat.

Dis nou seker ’n slegte voorbeeld, maar elke keer as ek presies teen daardie bult uitry, kry ek ’n nare gevoel en dit breek my spoed. Dis nou al dertig jaar later en vir seker moet ek nou ’n brug bou en daaroor kom. Maak die brieke los!

Omdat ons ons so maklik laat beïnvloed deur ons verlede, weet die duiwel dat dit ’n plek is waar hy die brieke kan optrek en ons spoed kan breek. Ek hoor hoe sê baie mense, nee wat, kies eerder iemand anders. Jy ken nie my verlede nie. Ek maak dit nie. En so ruk jy en jou verlede die handbriek op.

Ek wonder wat die impak sou wees as Paulus dieselfde vir God op die Damaskuspad gesê het: Nee, jammer Here. Ek vermoed die lyne is êrens gekruis, want U het nou by die verkeerde persoon opgedaag. Ken U my verlede? Ek vermoed so, maar net om U geheue te verfris: Ek is mos Saulus wie se hande vol bloed is. Ek het al ophou tel hoeveel mense ek al doodgemaak het. Dit sou ’n slag vir die uitdra van God se woord gewees het.

Nee, Paulus is wakker en hy gee die duiwel net daar en dan ’n bloedneus: 13… ek steur my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie.

Paulus laat nie toe dat sy brieke opgetrek word nie. Hy laat nie toe dat sy verlede sy spoed breek nie. Hy weet hy was heeltemal van die pad af. Hy weet hy het verkeerde dinge doen. Erg verkeerde dinge, maar hy verstaan die effek van Jesus se kruisdood. Hy weet dat Jesus klaar die straf gedra het vir sy droogmakery in die verlede. Daarom kan hy aangaan en ’n kragtige instrument in God se hand wees.

Maar dis ’n bewustelike keuse wat hy moes maak. Ek is oortuig daarvan dat die duiwel ook sy geluk met Paulus probeer het. Die duiwel het vir seker ook by sy gedagtes opgedaag om hom oor sy verlede in ’n hoek te probeer vasdruk. Hy kon egter niks met hom regkry nie, want Paulus het daai verlede van hom agter hom geplaas en al sy energie ingesit in dit wat voor hom lê.

Mag dit ook waar word van jou lewe. Mag jy bewustelik kies om die brieke van die verlede los te maak en al jou energie in te sit in dit wat voorlê. Mag God jou gebruik en mag Hy ’n reguit hou slaan met ’n krom stok soos ons!

Om oor na te dink

Hoe lyk jou verlede?

Breek dit soms jou spoed?

Hoe kan jy die brieke losmaak?

Gebed

Ons Vader, hoe gou trap ek nie in die strik nie. Hoe styf is my handrem nie opgetrek oor my verlede nie. Help my om ’n brug te bou en hieroor te kom. Ek wil voluit vir U deur die wêreld hardloop! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?