God se Woord in vandag se woorde

Met bloed wat uit haar stroom en 20% lewe oor, skree sy agter hom aan: Ek vergewe jou!


WEES GEWAARSKU: HIERDIE IS NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE.

Ek kry Dinsdag die aangrypende getuienis van Estelle du Plooy en deel dit met haar toestemming:

Die oggend half 9 het ons tuinman by my kom kos vra. Soos gewoonlik het ek vir hom goeie kos en ’n beker koffie gegee. Hy het op die trappie voor die agterdeur gesit en eet. Ek het hom vertrou, want hy was na my mening ’n goeie mens. Altyd ordentlik teenoor ons gesin gewees. Ek was in die kombuis besig toe hy inkom tot by die wasbak en soos altyd sy bord, mes en vurk en beker bêre.

Toe hy omdraai en die agterdeur van binne sluit, weet ek hier is probleme! Hy het my toe gegryp en met ’n mes tussen my oë gesteek. Hy sny my toe van die linkerkantste hoek van my linkeroog oop en steek my twee keer met die mes onder my linkeroog. Toe steek hy my in die middel van my neus en sny my tot in die helfte van my linkerwang oop. Daarna het hy my twee keer onder my regteroog gesteek.

Ek het by GOD gepleit en gesê: HERE, in U Woord sê U, U sal my nooit begewe of verlaat nie, moet my asseblief nie vandag verlaat nie. Ek het dadelik twee arms om my gevoel. Dis ’n onbeskryflike gevoel. Dis die GROOTSTE LIEFDE wat my vasgehou het.

Daarna het die man my in my bo-lip en onder-lip gesteek. Bloed het oor my gesig gestroom. Ek het pyn gehad, maar het net een ding in my kop gehad en dit was om te bly leef tot my man en kinders huis toe kom. Ek was bereid om te gaan, maar ek wou hulle nog ’n laaste keer sien. Daarna het die man my in my nek gesteek en my nek gesny.

Toe bind hy ‘n stuk lap om my nek. Ek glo hy wou my later daarmee verwurg. Die messteek in my nek was millimeters van my hoofslagaar af. Daarna het hy my twee keer in die regterkant van my neus gesteek. Soos ek wou keer, het hy byna my regterduim afgesny. Hy het my in my linkerhand gesteek dat die mes dwarsdeur my hand gegaan het. Ek het ’n klomp velwonde op my arms en liggaam opgedoen soos wat ek gekeer het.

Hy het ’n rekverband op my lessenaar middeldeur gesny en my twee hande styf aanmekaar vasgebind. Hy het dieselfde met my voete gedoen. Ek was pap teen daardie tyd, my kragte was min en ek het verskriklik gebloei. Hy het ’n klomp lappe by my masjien gevat en in my mond gestop. Hy draai toe ’n ander rekverband om my kop sodat my gesig bedek was – so styf dat my neus platgedruk was. Toe skeur hy my klere van my liggaam af om my te verkrag.

Ek het krag gekry en geveg met alles in my. Ek het steeds die arms om my gevoel. Eers het my een voet losgegaan en daarna my een hand. Die bloed het so oor my gesig gestroom dat die verbande deurtrek was van die bloed. Ek het begin sukkel om asem te kry.

Ek het aanmekaar by GOD gepleit om my nie te begewe of verlaat nie. Ek het baie swak gevoel. Hy was baie kwaad omdat hy my nie kon verkrag nie en omdat ek losgekom het. Hy het my geklap en op my gespoeg en my sleggesê. Toe beveel hy my om op die vloer te lê. Ek pleit toe JESUS se bloed oor my liggaam.

Terwyl ek op die grond lê, het hy ’n duvet oor my gegooi sodat my kop toe is. Hy het my seun se gewig van 26 kg gaan haal en op my kop gegooi om my dood te gooi. Ek het die hou gevoel. GOD het my vasgehou en ek het nie my bewussyn verloor nie. Toe stroom die bloed uit my uit. My mond was vol bloed. My lippe het aanmekaar geplak en ek het baie pyn gevoel. Ek het by die sekonde gevoel hoe my lewe uit my loop.

Ek vra toe vir GOD om my net te spaar tot my man en kinders huis toe kom.

Daarna vra ek vir die man om vir my water te bring om my mond uit te spoel. Hy het geloop en ek het tot by my selfoon gekruip. Dit was nog ’n ou foon met knoppies. Toe ek die selfoon wil vat, het ek agtergekom ek is blind. GOD het my gehelp om te kon bel. Ek het my man se werk gebel en gesê hy moet dadelik kom. Toe kom die man met die water en hy gooi die bottel water op my. Hy het nog daarna kos in my yskas gestaan en eet. Toe sê ek vir hom daar hang die kluis se sleutels en daar is die kluis, vat alles in die kluis en in die huis wat jy wil hê. Toe het hy al ons geld gevat en ook my selfoon.

Net daarna kom my man by die huis aan. Die man het my man hoor roep en by die ander deur uitgevlug. Terwyl hy die kamer verlaat, het ek vir hom gesê: “Ek vergewe jou vir wat jy aan my gedoen het.” My man het my op die grond gekry. Ek sê toe vir hom dis Johannes en hy is toe agter hom aan.

Intussen het die pastoor by my huis aangekom. Hy het ’n handdoek in my badkamer gaan haal en my kaal liggaam bedek. Hy het by my kom sit en gesê: “Soos wat GOD jou vanoggend vasgehou het, so gaan Hy jou vashou. JY SAL NIE STERF NIE!”

My man het gekom en my dokter toe geneem. Die dokter het vir hom gesê ek het 20% lewe in my. Na hulle my ondersoek het, het die dokter gesê ek sal NOOIT weer kan sien nie. Ek het vir myself gesê dis nie wat GOD sê nie. In my gesig het ek 58 steke gehad en klomp op my arms en in my nek. Ek wou huistoe gaan. My kakebene was vir twee weke inmekaar geklem.

Ek het elke dag met GOD gepraat en gevra HY moet my oë herstel. Na 7-en-‘n-half maande kon ek weer sien. Ek het baie van my sig verloor, maar ek is dankbaar teenoor GOD. Hy het nie net my liggaam herstel nie, maar ook my oë. Ek kon weer werk. Ek hou skool en ek kan sien en ek geniet alles wat ek doen. Johannes het 14 jaar tronkstraf gekry waarvan hy net 7 gesit het. Hy loop op straat rond. Ek het hom al 3 keer gesien. Ek het vrede met hom en ek het hom vergewe en vrygespreek in JESUS NAAM.

Toe ek dit klaar gelees het, antwoord ek haar soos volg: “In my lewe het ek nog nie so ’n aangrypende getuienis gehoor nie. Eintlik is ek lam. Eintlik wil ek huil en terselftertyd wil ek skree, maar tog ook op ’n manier vir God loof. Dankie dat ek by jou kan leer oor vergifnis, ware vergifnis. Dankie dat ek deur jou vir God kan sien en Hom leer ken.”

Oor en oor hoor ek: “Toe hy die kamer verlaat, het ek vir hom gesê: “Ek vergewe jou vir wat jy aan my gedoen het.”

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek