God se Woord in vandag se woorde

Met die leeu om die hoek


Ons het baie versoeke gekry om tydens die isolasie-tydperk eredienste op Sondae te stream. Ons beplan die eerste diens op Sondag, 29 Maart om 9h00. Skakel gerus in by ons: https://kruispad.247.org.za/kruispad-comtv/

As ek so oor my lewe kyk, sien ek keer op keer plekke waar dit maar broekskeur gegaan het. Daar was tye wat dit gevoel het of ek gaan sink. Ja, daar was tye wat dit gevoel het of dit die einde is. Gelukkig het God elke keer vir my deurgekom.

Dis maklik om agterna anders daarna te kyk, maar as jy in die middel van daai krisis sit, is dit nie maklik om die lig in die tonnel raak te sien nie. Al wat ’n mens sien, is die monster wat jou probeer verwoes. En op ’n manier is dit te verstane. Ons is mos maar net mens.

Paulus was ook ’n paar keer hier. Hier is sy getuienis. 17Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered.

Die leeu wat Paulus hier van praat is nie ’n fisiese leeu nie. Hy maak gebruik van beeldspraak om die regter voor wie hy gegooi is, te beskryf. Maar gelukkig het God vir hom deurgekom en kon hy met sy werk aangaan.

Watter leeu staan voor jou deur? Watter krisis staan in jou pad en dit lyk nie of jy daaroor sal kom nie? Is dit ’n finansiële krisis of dalk ’n gesinskrisis? Dalk is daar probleme by die werk of iets skort met jou gesondheid?

Ongelukkig is dit deel van die lewe. Daar is seisoene in ’n mens se lewe wanneer dit voel of die wind die heeltyd sterk van vooraf kom. En dit maak ’n mens so moeg. Gelukkig is daar darem ook goeie nuus. Soos wat God vir Paulus gehelp het om nie deur die leeu opgevreet te word nie, sal God ook vir jou help. Soos wat God vir Paulus gehelp het om sy werk klaar te maak, sal God ook vir jou help om klaar te maak.

Maak nie saak hoe groot en onoorkombaar die leeu in jou pad is nie, God sal jou help. Soos vir Leonie:

Dit het my jare gevat om die mense te vergewe wat in ‘n gewapende roof by die werk, alles gevat het … my verloofring en troupant, juwele. My goue armband en oorbelle wat my kinders net ‘n week tevore vir my gegee het vir my verjaardag.

Ek was vasgebind en hulle het my na die filing-afdeling gesleep. Ek het geweet hulle wil my verkrag …

Ek het uitgeskree: LORD I REBUKE THEIR WORKS …  REMOVE THEM IN JESUS’ NAME!

Hulle het hul hande van my afgeruk en teruggestaan! Ons God is groot! Ek het met niks agtergebly nie MAAR ek LEEF! JESUS het my beskerm!

In Leonie se lewe het daar ’n paar groot leeus met lelike planne gestaan. Maar hulle kon nie hul planne uitvoer nie, want die magtige God het haar beskerm.

En so sal God ook jou beskerm.

Dalk is die leeus nie nou in jou sig nie. Neem egter nog steeds die boodskap en maak dit deel van jou arsenaal. Dalk het jy dit net om die volgende draai nodig.

Teks
2 Tim 4:9-18
Om oor na te dink
Hoe lyk jou leeu?
Hoe lyk jou God?
Glo jy dat Hy vir jou sal deurkom?

Gebed
Here, ek voel so benoud wanneer krisisse buite my beheer voel. U is die Almagtige God en vir U is geen probleem te groot nie. Beskerm my te midde van die chaos en help my om in een stuk, bruikbaar vir U, aan die anderkant uit te kom. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek