God se Woord in vandag se woorde

Met ’n sak hoop na my begrafnisse?


Mense praat nie maklik oor die dood nie. Dit is nie ’n maklike onderwerp nie en eintlik verkies ons dit om dit te vermy. Dis in ieder geval nog glad nie in my visier nie, want dit kom eers aan die einde van ons lewe by ons lewenshuis ingestap.

Dit is so. Dis eintlik voor die hand liggend dat dood eers by die einde van ons lewe ingestap kom. Al probleem is dat ons nie lekker weet wanneer dit die einde van ons lewe is nie, want dood kan enige tyd van ons lewe sy opwagting maak.

As ek eerlik moet wees, is ek effe bang vir die dood. En oor dié stelling het ek al baie pak gekry, want Christene moet mos nie bang wees nie. Tog het ons ’n vrees vir die onbekende. Ek weet waarheen ek gaan. Maar as ’n mens nie iets ken nie en nog nie daar was nie, is daar mos maar ’n tikkie onsekerheid.

Ek onthou nog die jare toe ek net klaar was met skool en ek opgeroep was vir twee jaar in die weermag. Ek onthou nog hoe my ma vir my seep en sjampoe en ’n paar nodige goedjies gaan koop het. Ek onthou nog hoe ek tussen duisende ander raserige mans op Wingfield gestaan het en aangejaag is om op die trein te klim. Ek onthou nog hoe die trein stadig begin beweeg het en ek vir my ma gewaai het. Ek onthou nog hoe bang ek was vir dit wat kom…

Dit is heel normaal om bang te wees vir die onbekende. Ek dink dis heel normaal om skrikkerig te wees vir die dood, want vir ons almal is dit onbekend. Maar vir die lewe hierna hoef ons nie bang te wees nie. Dis hier waar dit vir ons as Christene makliker is. En dadelik dink ek aan my vriend wat in reïnkarnasie glo. Ai, hoeveel spanning moet hy nie hê oor die lewe hierna nie. Hy glo dat jy weer terugkom in ’n ander gedaante. Sê nou net hy kom as ’n mier of ’n muskiet terug? Ai, sy lewe sal net ’n gejaag wees om lewend te bly.

Ons hoef ons nie te kwel oor die lewe hierna nie. Ons kan dalk bietjie bang wees vir die onbekende, maar vir die lewe hierna het ons ’n sak hoop. Soos Paulus sê: 13…Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie.

Dis normaal om te huil oor iemand wat ewe skielik uit ons lewens geruk word. Ons kry onsself jammer, want ons gaan die persoon mis, maar op ’n manier kan ons ook feesvier, want ons weet waarheen die persoon is. Ons weet dat hy of sy nou by die Ewige Verlosser sit. Daarom kan ons ook op begrafnisse feesvier, want ons geliefde is op ’n baie beter plek.

Ek wil graag hê dat my vriende en familie na my begrafnis eendag ’n groot braai hou. Ek wil hê hulle moet feesvier omdat ek op ’n beter plek is. Hulle moet saam met my bly wees dat ek uiteindelik by my Verlosser is. My vrou sukkel nog met die idee. Ek vermoed haar gesukkelry het te doen met die stukkie bangheid wat ons vir die dood het.

Die dood en begrafnisse is nie ’n maklike ding nie. Vir predikante en pastore is dit soms nog moeiliker, veral as hulle nie eens die persoon geken het of weet dat die persoon glad nie ’n gelowige is nie. Wat sê ’n mens nou op so ’n begrafnis?

Daarom die opdrag: Lewe só dat dit maklik is vir die persoon om iets by jou begrafnis te sê. Lewe só dat die mense wat hartseer is, hartseer is omdat daar nou ’n gat in hulle lewe is en nie omdat hulle nie weet waarheen jy gegaan het nie. Lewe ’n lewe van hoop, want ons sit met ’n sak hoop vir die lewe hierna!

Teks

1 Tessalonisense 4:13-18

Om oor na te dink

Is jy ook skrikkerig vir die lewe hierna?

Het jy hoop?

Gaan jy jou Verlosser ontmoet?

Gebed

Ja, Here, wanneer ek oor die dood dink, is daar so ’n stukkie onrustigheid oor die onbekende. Maar met die bietjie angs is daar ’n sak vol hoop, want ek weet ek gaan U dan in lewende lywe ontmoet. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek