God se Woord in vandag se woorde

Met so ’n verlede is jy reg vir die job


Kom ons gee so ’n treetjie terug. Dis nou na Paulus se BC (before Christ) dae. Paulus was ’n fanatiese Jood en het die kerk van daardie tyd slaafs nagevolg en met alles in hom verdedig. Hy sou enige iets doen aan iemand wat iets anders as sy kerk sê.

Hy het geglo in die wet van God en niks anders nie. Alhoewel hy nie vir Jesus ontmoet het nie, het hy dit op homself geneem om Jesus se volgelinge van die aardbol af te vee. Hy het dit op homself geneem om dié sekte tot ’n val te bring en hier sou hy nie mooi te werk gaan nie. Inteendeel.

Volgens Handelinge 9:1 het hy soos ’n besetene aangegaan en die volgelinge van Jesus met die dood gedreig. Hy was ook betrokke by die dood van die eerste martelaar, Stefanus, wat met klippe doodgegooi is.

Vir Jesus het hy belaster, Sy volgelinge vervolg en beledig: 13… ek het vroeër lelike dinge oor Hom gesê, Sy volgelinge in die moeilikheid probeer bring en hulle selfs met geweld seergemaak.

Die ou by wie ons so baie leer, by wie se voete ons jare lank sit om te leer van Jesus en hoe ons vandag moet lewe, dís hoe sy verlede lyk. Nie ’n mooi prentjie nie.

As ons na dié prentjie kyk, lyk Paulus nie na die beste kandidaat om Jesus se storie en die manual vir die volgende eeue vir Jesus se volgelinge vas te pen nie. Ek is seker daarvan dat daar baie beter mense met baie beter CV’s was om die werk te doen. Dalk ’n paar universiteit proffies wat die oer teks beter verstaan, die geskiedenis ken en filosowe van daardie tyd goed op hulle neuse kon laat kyk.

En tog kies God vir Saulus om hom daar op die Damaskus pad te ontmoet en hom te oorspoel met Sy liefde. Soveel so dat God selfs sy naam verander en toelaat dat hy vir ’n paar dae nie kon praat nie.

Dís wat kan gebeur as ’n mens in God vasloop.

Paulus getuig verder: 13… God het my jammer gekry omdat ek nie geweet het wat ek doen nie, want ek het nog nie in God geglo nie. Paulus het gedink hy doen die regte ding. Dis dan vir die kerk wat hy veg. Hy probeer die kerk skoonhou van al die sektes. Sien jy hoe maklik kan ons teen die verkeerde boom blaf?

Gelukkig help God vir Paulus. Hy kry hom jammer en gaan ontmoet hom op die pad na die lewe. Ten spyte van dit wat hy aangevang het, 13 het God my die werk gegee om te doen. God maak onbevoegde mense bevoeg. God gebruik mense wat op ’n ander pad is om op Sy pad te kom werk. God gebruik mense ten spyte van wat hulle al alles aangevang het om vir Hom ’n verskil in die wêreld te maak, ’n moewiese verskil.

En wanneer ons nou terugkyk oor Paulus se lewe, besef ons hy is eintlik die beste man vir die job. Hy ken die stofstrate en hy ken die mense. Hy weet hoe hulle dink. Hy weet waar hulle van die pad af is. Hy ken hulle taal en manier van lewe. Wanneer hy praat, hoor hulle, want hy was een van hulle.

God kan jou ook gebruik in die omgewing waar jy woon, werk en speel, want dáár is jy die beste man of vrou vir die job. Jy ken daardie stofstrate en jy ken die mense. Jy weet hoe hulle dink. Jy weet waar hulle van die pad af is. Nes jy dalk ook al was. Jy ken hulle taal en manier van lewe. Wanneer jy praat, hoor hulle, want jy is een van hulle.

God roep jou, al lyk jou verlede hóé en al dink jy wát. God wil jou gebruik daar waar jy is.

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Hoe lyk jou verlede?
Hoe lyk jou hede?
Waar wil God jou gebruik?

Gebed

Here, dankie dat U ook my verlede kan gebruik om vandag ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Ek weet U roep my ook, soos vir Paulus, om ’n verskil te maak deur my eie ervaring te gebruik om ander beter te verstaan en beter te help. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek