Met wysheid verander ons ons natuurlike geneigdheid
8In alle omstandighede moet hy reg optree. Dis die opdrag vir ons almal.
Ek sukkel met “in alle omstandighede.” God moes mos weet ons is mense en dat ons van nature skeeftrek. Ja, dis maklik wanneer dinge loop soos dit moet loop, maar ai, as die dinge nie loop soos ons wil hê dit moet loop nie, tree ons nie lekker op nie.
Ja, dit is hoe dit is, maar ons moet dit nooit as ’n verskoning gebruik nie. Eintlik moet dit vir ons ’n uitdaging wees om veral wanneer dit moeilik gaan die regte dinge te doen. Al faal ons daarin, moet ons opstaan en volgende keer weer probeer en weer probeer en weer, totdat ons dit regkry.
Ek besef maar net al hoe meer dat ons almal harde klap van die sondeval gekry het. Dit het gemaak dat ons natuurlike geneigdheid, dit waarop ons altyd terugval, ons optrede erg bevlek het.
Ons raak kwaad as iemand voor ons inry. Ons wil slange vang as mense met hul tonge mors en ander seermaak. Ons raak woedend as ons sê maak so en dan maak hulle anders. En dan tree ons nie reg op nie …
Die vraag is, hoe ons ons natuurlike gedrag kan verander? Hoe kan ons al hoe meer reg optree, al loop die dinge nie soos ons wil nie?
Ons is vier skooltjommies wat vir ’n ander een in Australië gaan kuier. Vir drie weke is ons weer soos stout skoolseuns en toer aan die Ooskus op tot bo by die Barrier Reef.
Dit is verskriklik lekker om weer die een storie na die ander uit te pak. Ons swem in die see en ’n gronddam. Ons sit vir ure in ’n jacuzzi en bespreek die hede en wonder saam oor die toekoms.
Ons gaan slaap laat, maar staan die oggende in kompartemente op. Ons lywe is nie meer gewoond daaraan om soos jong seuns geen keer te hê nie. Die een sê hy wens ons was weer jonk. Ja, sê ek, maar met die wysheid wat ons al so al langs die pad van die lewe opgetel het.
Almal is dit eens dat dit ’n goeie kombinasie sal wees.
Ek besef dit is die antwoord op die vraag hoe ons ons natuurlike optrede moet verander. Ons het ’n sak vol wysheid nodig om altyd reg op te tree. En die wysheid maak ons al langs die pad bymekaar.
By ons ouers en ons medereisigers op die pad. In God se Woord en stilsit by Hom en met die wandel met die Heilige Gees. Orals moet ons ons oë oopmaak waar mense geplant is om ons te help om nog wysheid in ons sakke te pak.
So kan ons ons natuurlike optrede stukkie vir stukkie aanpas, sodat ons dit ook begin regkry om in alle omstandighede reg op te tree.
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Tussen watter mense of in watter omstandighede is jy geneig om wysheid by die die agterdeur uit te gooi?
Hoe dink jy kan jy dit volgende keer anders benader om in “alle omstandighede” reg op te tree?
Hoekom dink jy gee God vir ons die opdrag om in alle omstandighede reg op te tree?
Gebed
Vader, U ken al my verkeerde neigings! Ek wil dit nie aflag of probeer regverdig nie, maar een vir een voor U kom bely. Ek is skuldig. Dankie dat U my volkome nuut maak wanneer ek my sondes bely. Help my om dit volgende keer anders te doen. Amen.