God se Woord in vandag se woorde

Mindful oor Jesus


’n Vriend van my vertel van ’n kursus wat hy geloop het om hom te help om weer te leer om die klein dingetjies in die lewe raak te sien. Ons raak so gewoond aan dinge, dat ons vergeet om waar te neem en dan mis ons so baie uit. Ons lewe in ’n trans en eintlik gaan die lewe stukkie vir stukkie by ons verby.

Die kursus, wat Mindfulness genoem word, help ’n mens om weer van vooraf te leer om die gewone dinge om jou raak te sien en dit weer te waardeer. Sit net so vir ’n oomblik stil en luister na al die klanke om jou.

Ek doen dit vir ’n tydjie en hoor voëls, blare wat waai en ’n vliegtuig. Na die vliegtuig oor is, hoor ek ’n tortelduif koer. Die gejaag deur die lewe maak ons doof vir die klein dingetjies. Ons sien nie meer die wonders raak nie. Ons glo nie meer nie, want iets anders het dit waarin ons geglo het, oorgeneem en opsy geskuif.

Dit is egter niks nuut nie. Selfs die Hebreërs-skrywer het besef dat die lesers nie meer mindful is oor die wonder van Jesus nie, en hy verduidelik keer op keer watter groot offer Jesus gebring het:

26Ons het nou ’n Hoëpriester wat alles vir ons doen wat ons nodig het. God is opgewonde oor Hom. Hy het nie foute gemaak nie en kan nie van een verkeerde ding beskuldig word nie. Hy is anders as sondaars wat heeltyd foute maak. Hy is nou by God self in die hemel, so belangrik is Hy regtig. Die ander priesters moes mos dagin en daguit eers offers bring om vir God om verskoning te vra vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Dan eers kon hulle offers bring vir die sonde van die ander mense. 27Maar dit is nie vir Jesus nodig nie. Hy het een offer gebring en toe het God gesê dit is genoeg. Daar is nie meer offers nodig nie. En daardie offer was toe Hy Homself geoffer het.

Die vorige manier om ontslae te raak van die straf van ons sondes, het nie lekker gewerk nie. Dit was net tydelik van aard en moes gereeld weer en weer gedoen word. Elke nou en dan moes daar ’n dier geoffer word. Die dier moes die straf in plek van die mens dra. Maar dit was van korte duur, dan moes daar maar weer geoffer word.

Om die tydelike aard van die offer in ’n permanente ene te verander, moes die offer perfek wees, sonder sonde, heilig, afgesonder vir God. Jesus was die enigste kandidaat en gelukkig, dank God, het Hy ingestem om die offer te wees.

Die grootsheid van hierdie daad gaan so gou by ons verby. Ons besef nie hoe groot die daad is nie. Daarom dat ons ons gedurig moet dwing om mindful te wees. Ons moet stil gaan sit en onsself terugneem na Golgota. Ons moet weer en weer die Skrif lees om te besef hoe perfek die offer is. Dan sal ons oorval word deur vreugde en sal ons manier van die lewe stap anders wees.

Vir God was die offer van Jesus genoeg. Dit is ook genoeg vir al die kere wat jy drooggemaak het. Dra dit heeldag in jou kop rond en lewe dan anders.

Teks
Hebreërs 7:26-28

Om oor na te dink
Watter offer moet jy bring om vir jou droogmaak te betaal?
Is Jesus se offer groter as jou droogmaak?
Kan jy weer opgewonde raak oor Jesus se offer?

Gebed
Here Jesus, as dit nie vir U was nie, was ek in groot moeilikheid! Dankie dat U die perfekte offer vir my sondes was! Dankie dat ek nou heeltemal vry kan wees! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek