God se Woord in vandag se woorde

Moenie bang wees nie


Filippense 1:27-30

Ek is nie ’n ou wat baie goed is om met ander mense te redeneer nie. Dis net nie my gawe nie. Met mooi gevleuelde woorde sal mense my gou ’n paar ore aansit en dan wonder ek of ek op die regte pad is. Skielik is ek onseker en daar wil-wil ’n bangheid oor my trek.

Ons moet egter nie vir ander bang wees nie: 28Moenie dat die ander wat van julle verskil, julle senuagtig of bang maak nie. Die feit dat julle nie sommer weghardloop nie, sal vir hulle wys dat hulle op die verkeerde pad en julle op die regte pad is. Julle pad loop na God toe.

Baie keer probeer mense om ons spoed te breek. Net sodra ons voel asof ons ietsie meer van God begryp, kom daar iemand van die kant af en meen dat ons die pot so bietjie mis sit. Nou kan daar sommige van ons wees wat onseker begin raak of selfs twyfel. Is ons dan op die regte pad? Is ons nie verkeerd en hulle reg nie? Soms raak ons selfs bang.

Paulus sê dat ons nie bang moet word nie. Ons moet stewig staan. Ons moenie weghardloop of agter hulle aanhardloop nie. Ons weet mos ons is op die regte pad. Ons glo vas dat Jesus na die aarde gekom het om vir ons sondes te sterf en dat dit genoeg is. Mense wat met ander stories kom, moet ons nie onseker maak nie.

Hier is die bevestiging: 28…Julle pad loop na God toe. Hy is die Een wat julle red omdat julle in Christus glo. Ons het dit nie verdien nie, maar God het dit ter wille van Christus vir ons gedoen.

In plaas van vrees vir ander, is hier ’n versterking vir ons geloof, want sien, dit gaan nie oor ons nie, maar oor God. God is die een wat eerste afbuk na die mens. God is die een wat eerste uit die blokke is en vir ons ’n kans gee op verlossing. God betaal die ultimate prys om die mens ’n kans op verlossing te gee. Hy laat Sy Seun sterf aan die kruis.

Het ons enige iets hiervan verdien? Kan ons enige iets doen om dit te verdien? Nee, daarvoor skiet ons vermoë heeltemal te kort. As ons verlossing van onsself afgehang het, sou ander wat van ons verskil het ons bang en deurmekaar gemaak het.

Gelukkig ontstaan alles uit God. Selfs die plan om ons te red. As ons dus in Jesus glo, weet ons dat ons op die regte pad is. Daarom hoef ons nie bang te wees as slim mense ons van die pad wil lei nie. Staan vas en glo dat jy saam met my op die regte pad is. Glo dat Jesus die Verlosser is en laat jou hele lewe daarvan getuig.

Maak seker dat die dade wat jy uitleef in lyn is met die pad waarop jy is, want as jy verstaan wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het, kan jy nie anders as om uit dankbaarheid jou dade in lyn met Sy wil te kry nie. Daar waar jy op die regte pad  na God is, sorg dat dit wat jy doen ook reg is in die oë van God.

Dan hoef ons nie bang te wees vir die mense wat van ons verskil nie. Die kans is goed dat ons manier van lewe sal wys dat ons op die regte pad is …

Om oor na te dink

Is jy soms bang vir ander se opinie?

Glo jy dat jy op God se pad is?

Hoe moet jy anders lewe?

Gebed

Vader, dankie dat ons vandag weer opnuut verseker word dat dit deur U genade alleen is dat Jesus se bloed ons vrygespreek het van ons sondes. Elkeen van ons wat glo dat Jesus dit ook vir ons gedoen het, wil ons dade uit dankbaarheid in lyn kry met God se wil vir ons lewe. Help ons asseblief daarmee. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?