God se Woord in vandag se woorde

Moenie jou skild weggooi nie


In die ou dae is soldate met ’n swaard en ’n skild toegerus. Hierdie skild moes hulle bewaar het van aanvalle van die vyand se swaard. Onder geen omstandighede moes hulle die skild verloor het nie. Daar is niks gedink van manne wat hulle skild neergegooi en weggehol het nie.

Volgens oorlewering, is die skild deur die moeder aan die seun gegee en gewoonlik het sy dan gesê: “Bring die skild terug of word deur ander bo-op jou skild gedra.” Hiermee bedoel hulle dat dit beter is om selfs dood op die skild teruggedra te word as om sonder die skild daar aan te kom.

Net so moet ons ons vertroue in God ook nie neergooi en weghol nie, want dan is ons sonder beskerming. Dan is ons nie bestand teen die aanvalle van die vyand nie en is ons ’n maklike teiken. Eintlik is dit ’n opdrag vir elkeen: 35Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in.

Wanneer ons ons geloofsvertroue in God neergooi, begin twyfel óf toelaat dat daar ’n kraak in ons geloof kom, óf dit haal die beskermende skerm oor ons af. Dan nooi ons eintlik twyfel in en dis twyfel wat ons geloof in God stukkie vir stukkie steel.

Wanneer ons egter sorg dat ons vertroue in God sterk is, kan die aanvalle van die bose maar kom, ons sal nie van die pad af gesleep kan word nie. Ons sal kragtig enige uitdaging kan teenstaan. Ons sal met wysheid elke storm kan weerstaan en as oorwinnaars uit die stryd tree.

Dit klink maklik, maar as ons hierdie presies as waarheid in ons lewe wil toepas, is dit nie so maklik nie. As ’n krisis aan ons deur klop, is ons vertroue baie keer te lig in die broek.

Wanneer die dokter die slegte nuus vir ons aankondig, of die likwidateurs klop aan die voordeur, of nog ’n verlaging in jou salaris om die hoek staar jou in die oë, maak twyfel en vrees hulle woonplek in ons. Dit is soos om jou skild, dit wat jou beskerm, wat jou krag gee, wat jou durf gee, wat jou die moed gee om aan te hou veg, net neer te gooi.

En nou klink dit so stupid om te dink dat ’n mens jou skild, jou beskerming sal weggooi. Dis wat jou aan die lewe hou en bewaar teen die gevare. Maar dis eintlik wat ons doen as ons ongeloof in ons lewe toelaat en die deur oopmaak vir ons geloof om uit te stap.

Nou verstaan ek hoekom dit eintlik ’n opdrag is. Behou ten alle koste jou geloofsvertroue. Maak seker dat jou vertroue in God nooit ’n krakie kry nie. Deur dik en dun moet ’n mens vashou aan die wete dat God vir jou sal voorsien. Al vlieg die pyle hier naby ons kop verby. Al waai die wind so kwaai dat dit jou wil omstoot. Al is die finansiële oorlog in volle vaart om jou aan die woed, is geloof in God en die vertroue dat die Heilige Gees jou sal beskerm en ’n uitkoms sal bied, al waaraan ’n mens kan en moet vashou.

En onthou, die beloning sal vir seker daar wees. Dit is nog ’n belofte van God waaraan ons kan en moet vashou!

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Waar loop jou geloof dun?
Wat steel jou geloof?
Hoe kan jy dit deel maak van jou stryd?

Gebed
Vader, dankie vir die bevestiging. Help my om nie toe te laat dat my geloof gesteel word nie. Help my om vas te hou aan die wete en vertroue dat U altyd vir my sal help! In Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek