God se Woord in vandag se woorde

Moenie vergeet van jou gawes nie


Die gawes wat ons het, is nie net wyd en syd gesaai waar ’n klompie op sekere mense geval het en die res op die grond nie. Elke mens is spesifiek met ’n gawe of ’n aantal gawes geseën en dit is deur God gedoen.

Hoor mooi wat gesê word: Die gawe wat jy het, is spesifiek aan jou uitgedeel omdat God dit so wou hê. Ons elkeen is heilig, afgesonder vir God en met ons spesifieke genadegawes moet ons daar waar ons is vir God woeker.

Eintlik is hierdie ’n waarskuwing en ’n opdrag: 14Moenie ophou of vergeet om die gawe te gebruik wat God jou so onverdiend gegee het nie.

Moenie jou gawes onder die emmer wegsteek nie. Moenie verskonings uitdink hoekom jy eerder iets anders moet doen as om jou gawe te laat grondvat nie. Moenie toelaat dat die bose ou jou laat vergeet van jou gawes nie. Moenie lui wees om jou gawe te laat werk nie. Moenie die uitstel-verskoning gebruik nie, want ons ken mos die spreekwoord: van uitstel kom afstel.

Hierdie is ’n ernstige waarskuwingsbord op ons lewenspad. Dis só ernstig dat een van die kommentatore (e-Sword: Henry) die volgende sê: “The gifts of God will wither if they be neglected.” Jou gawe sal opraak, wegraak, verdwyn as jy dit nie gebruik nie. Dié siening laat ’n mens nogal skrik. As ’n mens nie gereeld jou gawe in aksie stel nie, verloor jy later die kennis hoe om daarmee te werk.

En nou hoor ek hoe mense sê dat hulle op die verkeerde pad was en nooit hulle gawe gebruik het nie. Beteken dit nou dat hulle gawe tot niet is, verlore is en hulle nou maar die lewe moet aanploeter sonder hulle gawe? Nee, ek dink nie so nie. Ek glo te veel in God se genade.

Al het ek my gawe in die kas weggepak en dit nooit gebruik nie, sal God my help om dit na al die jare weer uit te pak, af te stof en sommer dadelik weer ten volle te gebruik. Amper soos fietsry. Hulle sê mos al het jy vir jare nie fietsgery nie, as jy weer opklim, ry jy soos jy laas gestop het.

Die feit bly staan dat elkeen van ons spesiaal deur God uitgekies is om ’n spesifieke stel gawes in die lewe te gaan uitleef. Sommige het een, ander ’n paar. Hierdie gawes is dié dinge wat ons maklik doen. Dit kom sommer vanself. Dit is lekker vir ons om dit te doen.

Ons het gawes gekry om ander te dien. Om die lewe vir ander makliker te maak. God wil ons as Sy agente gebruik. Hy wil die toerusting wat Hy vir ons geleen het, gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.

Dis nie sommer net so uitgedeel nie. God het dit spesifiek vir jou gee. Besef die belangrikheid daarvan. Maak moeite daarmee en wees die heeltyd op die uitkyk vir plekkies waar jy jou gawes kan laat grondvat. En wanneer die geleentheid by jou opdaag, gryp dit met albei hande aan. Dit is so ’n groot voorreg dat God jou uitgekies het om juis daar op daardie tyd ’n verskil in ander mense se lewens te maak.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Weet jy wat jou gawes is?

Is jou gawes aktief?

Wie het jou gawes nodig?

Gebed

Here, dankie dat U ook ’n gawe of twee aan my toevertrou het. Ek wil ’n goeie rentmeester wees van daardie gawes. Maak my oë oop dat ek kan sien waar U my wil gebruik om ander te bedien. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek