God se Woord in vandag se woorde

Moenie woorde mors nie


’n Mens kan so behep raak met dinge wat op die kantlyn staan, dat die dinge waaroor dit eintlik gaan uit die sig verloor word.

Byvoorbeeld: Ons kan so behep raak oor die klere waarmee ons kerk toe gaan, dat ons heeltemal vergeet hoekom ons nou eintlik kerk toe gaan. Ons mis die punt.

Ons kan so behep raak met watter karre ons ry of in watter huise ons bly, dat ons heeltemal vergeet hoekom ons op die aarde is. Ons is eerstens hier om God te verheerlik en Sy hande en voete te wees. Ons mis dikwels die punt.

Net so kan ons so behep raak met ons verstaan van die woorde in die Bybel dat ons heeltemal vergeet om toe te laat dat die woord ons verander om nader aan God te beweeg.

Dus die waarskuwing: 14Herinner die gelowiges gedurig aan hierdie dinge. Waarsku hulle met God as getuie dat die stryery oor wat sekere woorde kwansuis sou beteken ’n einde moet kry. Dit bring ’n mens nêrens nie en bou nie dié wat daarna luister op nie, maar breek hulle eerder af.

Dis darem baie eenvoudig gestel. Moenie stry nie. Dis vir my so snaaks, nee eintlik skokkend. Sit ’n klompie Christene op ’n hoop en dis nie kort voor lank nie, dan is daar ’n gestryery oor wie verstaan die Woord van God nou beter as die ander.

Ai, dis eintlik so ’n mors van tyd. Daar is geen wenners nie. Inteendeel, mense lag daarvoor en die skade word net groter.

Mense verstaan nie dat die Woord van God deur God self geïnspireer is nie. Dit is ’n Goddelike Woord. Onthou, God is op ’n totaal hoër vlak as ons. Ons sal nooit vir God heeltemal kan verstaan nie. As ons wel alles van God verstaan, is ons op dieselfde vlak as God. Dan is ons god. En daai sal mos nie werk nie.

Vir God om God te bly is daar ’n stuk wat ons nooit sal kan verstaan nie.

Dieselfde met God se Woord. As God se Woord ’n menslike boek was, het mense dit seker binne 100 jaar na Christus reeds uitgesorteer en verklaar. Tog kon die mens dit nooit regkry nie.

Ons moet ons tekortkominge verstaan. Ons moet verstaan dat ons met ons menslike breine na ’n Goddelik geïnspireerde Woord gaan. Dis amper om soos met ’n ketting en ’n paar albasters op te daag by die voorpunt van ’n oorlog.

Mense verskil dikwels oor die interpretasie of betekenis van ’n skrifgedeelte. Om daaroor te baklei, bring mens nêrens nie.

Weet jy wat is belangrik? Dat ons glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat ons op grond van Sy onselfsugtige daad eendag die hemel gaan beërwe. Dit is genoeg.

Kom ons gee vir mekaar ruimte om dinge anders te sien. Ek weet dis makliker as ons almal presies dieselfde dinge sien en glo. Dis moeiliker om saam om ’n tafel te sit as ons uit verskillende hoeke na dieselfde prentjie kyk. Maar dis wat Jesus sou doen.

Hierdie is ’n ernstige waarskuwing. Moenie met woorde mors nie.

Teks

2 Tim 2:14-18

Om oor na te dink
Staan jy soms stewig op jou woorde?
Bring dit goed of nie so goed nie?
Waar moet jy bietjie terugstaan?

Gebed
Here, weerhou my daarvan om in die versoeking te kom om onnodig aan die stry te raak oor die betekenis van woorde. Herinner my daaraan dat U wil hê ons moet in liefde en vrede met mekaar leef. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek