God se Woord in vandag se woorde

Mooipraat en aanpraat


Voordat ek stil word, hardloop my oë oor die e-posse wat so deur die nag ingekom het. My oog vang die een van Willie:

Ek lees vanoggend jou stukkie oor te veel flaws. Dit voel of jy dit net vir my geskryf het. Ek is afgetree en worstel met die Here oor wat my roeping is.

Ek voel Hy het my hier in ’n aftreeoord gesit met ’n doel, maar dit is of ek nie kan agterkom wat Hy vir my beplan nie. Ek praat met Hom, maar Hy antwoord my nie. Hoe sal ek weet?

Ek is seker net te ongeduldig. Sy tyd is nie altyd ons tyd nie …

Ek wil hom sommer dadelik antwoord, maar ek weet nie presies wat om te sê nie. Ek raak stil en begin my vers vir die dag te lees:

15Titus, al hierdie dinge wat ek vir jou in dié brief skryf, moet jy aan die ander gelowiges meedeel. Doen dit met die gesag wat die Here aan jou as geestelike leier gegee het. Praat mooi met hulle. Wanneer dit nodig is, moet jy ook streng wees. Vat die sondaars vas. Moenie toelaat dat mense met jou spot of op jou neersien nie.

Ek wil eers die vers oorslaan en ’n volgende ene lees, want die vers is mos net vir Titus geskryf. Maar hoe meer ek die vers lees, hoe meer besef ek dat die opdrag vir elkeen van God se kinders geld. En ja, vir seker ook ’n groot antwoord op Oom Willie se vrae aan God is.

Ons moet mooi met ander mense praat wat op die verkeerde pad is. Ons moet mense reghelp en ophelp. Ons moet voor stap sodat ander agter ons kan aanstap.

Mense het nie rigting nie. Mens loop in kringe rond, want hulle weet nie waar die pad is nie. Dit is ons wat weet waar die pad is se voorreg om ander te wys, om ander te help.

Ons vier die naweek my dogter se verjaarsdag. Toe ek Sondagoggend opstaan, lê daar ’n hoop studente en slaap. Hulle ontwaak die een na die ander. Met hul toestemming skakel ek die TV oor vir kerk. Dis ’n paar musiekvideo’s en toe ’n 15 minute-preek deur ’n jong prediker. Na die tyd praat ons saam oor die boodskap en die meeste deel hul eie storie. Ons sluit af met gebed.

Later stuur een ’n “dankie sê”-boodskap, om te sê dit het vir hom so baie beteken.

Op ’n manier, glo ek, kon ons mooi met hulle praat. Terwyl hulle onder die komberse gesit het, kon ons God loof deur musiekvideo’s en het die TV-prediker vir elkeen die pad deur bekommernisse kom oopbreek.

Maar ek onthou ook die vorige aand, terwyl een van die bokke direk uitgeskop het, het een van die manne ’n lang knoop gelos. Sonder om te dink het ek van agter af ferm my misnoeë uitgespreek. Hy’t dadelik verskoning gemaak.

Ek kon dit vir hom sê, want ek het gesag, gesag wat ek van God gekry het. Gesag om mooi te praat, maar ook aan te praat.

So is dit jou roeping en ’n bo-menslike antwoord vir Oom Willie ook. Ons elkeen moet mooipraat en ander help op die pad en soms moet ons woorde gebruik. Soms moet ons ander aanpraat.

En ons hoef nie bang te wees nie, want ons ontvang die gesag van God.

Teks
Tit 2:15

Om oor na te dink
Met wie moet jy praat?
Wat moet jy sê?
Hoe moet jy dit sê?

Gebed
Here, dankie vir hierdie antwoord oor die doel van my lewe! Dankie, dat U ook vir my wil gebruik om mense nader aan U te bring. Help my om die regte woorde op die regte tye te gebruik en nie bang te wees nie. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?