God se Woord in vandag se woorde

Motors wat onnodig staan


Gerhard skryf die volgende storie:

God deel met my oor motors met groot enjins. V8’s wat brul en die teerpad oprol as hulle ry. So ‘n motor sleep enige iets van ‘n sleepwaentjie tot ‘n trok met gemak.

As jy besef watter krag in die motor is, sal jy berge versit. Ongelukkig is hy magteloos en kragteloos terwyl jy nie die kleinste komponent in jou hand het nie – die sleutel.

As jy nie die sleutel het nie, gaan die motor nêrens heen. Hy brul nie eers as jy die petrolpedaal trap nie. Dis doodstil.

In ons lewens is die sleutel daardie baie klein mosterdsaad van geloof. Jesus se liefde is reeds daar. As die sleutel, “die geloof” ontbreek, gaan jy staan net daar waar jy is.

Ons besef nie hoe groot en kragtig Heilige Gees in ons is nie. As ons geloof het in God, kan niks ons stop nie. Net ek kan myself deur ongeloof stop.

So baie keer is ons twyfel en ongeloof ons handrem en keer dat ons lewensmotor die wêreld op volle vaart aandurf. En gooi nog ons skuldgevoelens oor ons verkeerde dae daarby, dan ruk ons dood. Ons het al die potensiaal. Ons kan so baie in die wêreld verrig, maar met ongeloof en skuldgevoelens duik ons in die hek.

En eintlik is dit so onnodig. Ons mors ons tyd op dinge wat Jesus reeds vir ons uitgesorteer het. 21Christus is die groot priester wat in beheer is in God se huis. 22Juis daarom kan ons opreg in God se huis ingaan sonder om te twyfel oor dit waarop ons vertrou. Ons binneste is mos silwerskoon gemaak deur die bloed van Jesus, sodat niks ons meer pla nie, en ons liggaam is met skoon water gewas.

Hoe duideliker kan ons dit dan nou hoor? Jesus is in beheer. Toe ons Hom aangeneem het as Verlosser, het Hy ons broer geword. Hy staan op vir ons. Hy is aan ons kant. Hy is eintlik ons prokureur daar in die hemel. So wanneer Hy ons verdedig, sê Hy niks nie. Hy lig net sy hande en wanneer God dit sien, weet Hy, Jesus het reeds vir ons sondes se skuld aan die kruis betaal.

Hoekom sal ons dan nou hieroor wil twyfel en so die handrem optrek?

En oor daai skuldgevoelens: Dis so tydmors. Dis so ’n spoedbreker. Dis so onnodig. Ja, ons almal maak foute en ons wil onsself daarvoor kruisig. Hoekom? Jesus is dan klaar daarvoor gekruisig. Hoekom sal ons dit dan nou weer wil doen?

Soos die kinders sê: Daar is ’n special op sement by die hardewarewinkel. Gaan koop ’n sak sement en bou nou ’n brug daaroor.

Ja, dalk is dit juis wat ons nou moet doen, sodat ons lewensmotor daaroor kan ry. Met spoed, sodat ons so die lewe met oorgawe kan geniet en werklik ’n verskil gaan maak met daai kattebak vol gawes wat jy gekry het.

Teks
Hebreërs 10:19-25

Om oor na te dink
Hoeveel spoed het jou lewensmotor?
Trek ongeloof en skuldgevoelens dalk jou handrem op?
Hoe kan jy anders maak?

Gebed
Vader, dankie vir Jesus se sterwe aan die kruis. Ek glo met my hele hart dat dit waar is en dat dit oorgenoeg is. Help my om die handrem in my lewe los te maak, sodat ek volspoed die lewe kan inry. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek