Muis, olifant, arend en God
Ek sit en dink nou weer aan die grappie van die muis en die olifant wat oor die brug gestap het. So halfpad deur sê die muis vir die olifant: “Nou laat dreun ons darem die brug lekker!” So ’n kordate muis.
So moet ons ook deur die wêreld stap. Ons moet ook kordaat wees en weet ons kan enige iets stormloop. Nie omdat óns so goed is nie. Nie omdat óns so sterk is nie, maar omdat ons God en Vader so sterk is.
Hoe gaan die kinderliedjie nou weer? My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen. Die berge maak Hy, die riviere daarby, die see en alles daarin. My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen!
En dis ons Pa. Daar is niks in die wêreld wat Hom kan stuit nie. Geen mag, geen krag. Die ou wat die naaste hieraan kon kom, was die vervalle engel en vir hom het Jesus aan die kruis uitgesorteer en sy angel getrek. Ja, die duiwel se angel is getrek. Hy is nou besig met sy laaste stuiptrekkings.
Jesus het dit ook besef en met God se krag het Hy Sy pad aangepak. 13Ek sê dit voor God wat alles lewendig gemaak het en voor Christus Jesus wat, sonder om bang te wees vir Pontius Pilatus, voor almal gesê het waarvoor Hy staan.
Jesus het presies geweet wat die plan was, maar ook hoe moeilik dit gaan wees. Tog het dit Hom nie gekeer om die pad aan te durf nie. Hy het geweet dat Sy Pa baie sterker en magtiger is as die magtigste ou op daardie stadium op die aarde. Daarom kon Jesus die berg voor Hom uitklim.
Watter berg is voor jou? Hoe styl en onmoontlik lyk dit vir jou? Wel, daar is iemand wat jou daar kan uithelp. God moet deel van ons lewe wees, sodat Hy elke stryd saam met ons kan stry.
Terwyl ons by die diere begin het, kom ons leer nóg iets by hulle. Neem nou maar ’n arend. Kyk wat doen hy met ’n slang. Hy probeer hom nie aanvat terwyl hulle albei op die grond is nie. Ek vermoed die arend sal dit nie maak nie, want die slang is net te vinnig.
Wat doen die arend? Hy vang die slang tussen sy pote en vlieg hoog in die lug op. Bo in die lug het die slang geen krag nie, want daar is geen grond onder sy lyf nie. Hy kan nie die arend iets aandoen nie. Hy kan nie eers keer dat wanneer die arend hom los, hy na sy dood gaan val nie.
So moet ons ook met ons probleme maak. Ons moet dit na God neem. Verander die speelterrein en neem dit na die terrein waar die duiwel reeds oorwin is. Neem al jou probleme na die sterkste in die heelal. By Hom is daardie probleempie net so groot soos die muis vir die olifant is.
Mag jy God se beskerming rondom jou voel. Mag jy altyd weet dat ons God die grootste is. Mag jy paraat wees soos die muis. Nie omdat jy so sterk en slim is nie, maar omdat ons God en Sy Seun Jesus aan ons kant is en ons altyd sal help.
Teks
1 Timoteus 6:11-16
Om oor na te dink
Hoe groot is jou probleem?
Hoe groot is jou planne?
Hoe groot is jou God?
Gebed
Vader, soms lyk en voel die aanvalle net te groot om te hanteer. Ek besef dat ek te lig in die broek is om dit self te hanteer. Ek kom skuil nou by U, want U sal my help. Al die pad. Amen.