God se Woord in vandag se woorde

My brother from another Father


Ons was ses kinders. Hoe my ma-hulle die somme laat klop het, sal het hulle weet. Vandag sal ’n mens ’n paar plase moet verkoop om so ’n trop kinders groot te maak en met opleiding onder die arm die wêreld in te stuur.

Ongelukkig is my pa oorlede toe ek nog jonk was en my een broer is later dieselfde jaar in ’n motorongeluk oorlede. Die gevolg daarvan is dat ons ’n baie hegte familie is. Nee, ons lê nie gedurig op mekaar se nekke nie, maar ons hou gedurig kontak en hoor hoe dit met mekaar gaan.

As daar ’n probleem in een se lewe is, dan bid ons saam. As daar iets te viere is, dan sê ons saam dankie. En vir die grootte: elke tweede jaar gaan ons vir Kersfees Sederberge toe en het ’n groot klomp sports vir ’n week aaneen.

Ek is dankbaar vir my familie, want ek weet as daar iets teen die fan van die lewe spat, sal my familie eerste by my deur kom aanklop, ’n druk gee en vra waar kan hulle inspring en help.

Dis hoe ’n familie moet werk. Familie moet na mekaar kyk. Familie moet vir mekaar omgee en mekaar se krukke wees, veral daar waar ’n mens grondpad slaan.

Net jammer dat dit nie altyd so werk nie. Daar is maar baie families wat aan flarde is. Dinge wat gesê of gedoen is in die verlede, wat ’n te groot skeur veroorsaak het om weer oor te klim. Dis jammer.

Gelukkig het ons wat kinders van die Here is, ‘n nuwe familie gekry. 4Titus, hierdie brief is aan jou gerig. Jy is vir my soos my eie kind, want jy glo ook. Ons al twee is nou deel van God se nuwe familie.

Paulus was die instrument in Titus se bekering. Daar was ’n baie hegte verhouding tussen hulle twee en vir Paulus het Titus soos sy eie seun gevoel. Binne die verhouding is Titus veilig en weet hy by wie se deur hy kan gaan aanklop as die dinge nie so lekker loop nie.

Dis so asof God geweet het dat baie van ons gaan droogmaak met ons aardse familie en dat Hy al weer voorsien met ’n nuwe familie. Dalk nie vlees en bloed familie nie, maar familie deur die bloed van Jesus aan mekaar gegom.

Ek is bevoorreg om ’n hele paar families te hê. Tjommies wat van skool af saamkom. Tjommies wat saam rugby kyk. Tjommies by wie ek sommer kan oorslaap as my bed eers deur gaste geokkupeer is.

Ons gebruik graag die spreekwoord: My brother from another mother. Maar nou besef ek dis eintlik: My brother from another Father.

Bloed is dikker as water. Of waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit. En dit is wat ons familie vir mekaar sal doen. Ons sal saam swaarkry, saam help en saam soek vir die pad uit.

Kom ons vat mekaar se hande. Kom ons besef wat God vir ons gegee het. Kom ons omarm ons familie en dien mekaar. En as iemand in jou familie iets teen jou gedoen het, wees jy die minste …

Teks
Tit 1:1-4

Om oor na te dink
Hoe wys jy jou dankbaarheid teenoor jou familie?
Waar moet jy gee?

Waar moet jy net vergewe?

Gebed
Vader, dankie vir al my broers en susters en dat ons familie kan wees. Tog weet ek dat ek soms op my eie is. Ander mis uit. Ek ook. Help my om meer uit te reik na die res van my familie, ook my bloedfamilie. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek