God se Woord in vandag se woorde

’n Bitter smaak in die mond


’n Vriend van my het vir my ’n hele paar kilogram olywe gegee om in te lê. Maar dis nie sommer net vir inlê nie. Jy moet eers ontslae raak van al die bitter. Ek kies gewoonlik die lang roete. Vir maande aaneen moet die water elke dag vervang word. En so met die uitloop van die ou water word die bitterheid stadig maar seker uit die olyf getrek. Aan die einde van die klomp maande moet die olywe in ’n sterk oplossing van sout lê en daarna is dit gereed om in asyn en ’n takkie Roosmaryn gebottel te word. Dis harde werk, maar die moeite werd en die resultaat baie lekker.

Op ’n manier verwys dit ook na ons as Christene, want sien, voor ons nog Christene was, was ons lewens ook vol van die sonde. Ons was bitter en nie ’n aanwins vir God nie. Op ’n manier moet ons ook daagliks gesuiwer word. God se water moet elke dag deur ons vloei en so die onsuiwerhede uit ons lewe trek.

Paulus gebruik die beeld van klere. Aan die einde van die dag se harde werk is ons klere vuil en na ons ons skoongemaak het, gaan haal ons skoon klere uit die kas. 22Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. 23Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. 24Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek.

Die eerste belangrike stap hier is dat ons moet besef dat ons vuil klere aanhet. Die sonde wat in ons is, maak ons vuil. Soos die olywe is ons bitter en dit is nie aangenaam vir God en ander mense rondom ons nie. Ons moet besef dat ons sondig is as gevolg van die sondeval. Sonde kom sommer vanself. Eintlik is dit ons default en keer op keer wil ons net terugval in die modder van sonde. Wanneer ons dit besef, kan ons eers begin om ontslae te raak van die sonde in ons.

Dis egter nie so maklik soos om vuil klere uit te trek en, soos ons mans maar maak, dit op die grond te gooi en nuwes uit die kas te gaan haal nie. Nee, dis ’n proses en by sommige vat dit langer as by ander. Die vuilheid, die slegte, die sonde het so diep wortel geskiet dat dit nie sommer net so uitgeruk kan word nie. Ja, daar is mense wat oombliklik kan ophou met ’n stuk sonde, maar vir die meeste van ons is dit ’n lang proses. Selfs jare.

Ons moet besef dat die pad van die ou lewe nie ’n goeie einde het nie, maar meer nog – die pad soontoe lê besaai met lyke. Daarom moet ons eerder ’n pen inkap en erken dat ons vuil is van die sonde en dat dit vir God ’n bitter smaak in die mond laat. Dan moet ons toelaat dat God se Gees soos water elke dag vars deur ons spoel. Dan sal ons al hoe meer die aard van die Heilige Gees aanneem: 24… Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy.

As ons toelaat dat die Heilige Gees deur ons spoel, sal die verkeerde dade al hoe minder in ons lewens opwagting maak. Die bitterheid sal verdwyn. Die vuil merke wat die sonde in ons laat, sal al hoe meer verdwyn en ons klere sal skoon wees. God sal die middel van ons lewe inneem en ons sal nie net aanneemlik in sy oë wees nie, maar ook vir die mense rondom ons sal dit vreeslik lekker wees om saam met ons deur die paaie van die lewe te stap.

Mag dit van ons elkeen waar wees!

Teks:

Efesiërs  4:17-32

Om oor na te dink

Waar is daar nog plekke in jou lewe waar die ou lewe nog deurslaan?

Hoeveel plek laat jy vir die Heilige Gees in jou lewe toe om skoon te maak?

Wat moet jy doen?

Gebed

Vader, ek wil nie vir U ’n bitter smaak in die mond gee nie. Ek weet ek het vuil klere aan. Help my om dit elke dag te erken en stuk vir stuk uit te trek en skoon klere aan te trek. So kan ek dan skoon voor U troon staan. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?