God se Woord in vandag se woorde

’n Blaasbalk onder jou gawes se vuurtjie


6Jy onthou mos dat God jou ’n baie spesiale gawe gegee het toe ek my hande opgelê het. Maak seker dat daardie gawe net al hoe sterker word.

Ek moes diep gaan lees om my vraag aan die teks te kon beantwoord. Die vraag was: Wat is ’n spesiale gawe en kry almal dit? Die ouens wat slim is en meer weet van die Bybel sê dat die teks verwys na Timoteus se spesiale gawe wat hy ontvang het om die evangelie uit te dra.

Dit is ’n spesiale gawe wat nie aan almal gegee word nie. Dit is ook reg so. Ek verstaan dat almal nie die gawe ontvang om kerke te gaan oprig nie. Wat egter vir my baie uitstaan, is die opdrag wat Paulus vir Timoteus gee oor wat hy moet doen met die gawe.

In dié vertaling word dit vertaal dat hy energie moet insit om sy gawe te laat groei, te laat beter word of dalk meer effektief te laat word. Die Griekse woord wat hier gebruik word, kan amper vertaal word met stook. Jy moet die vuur stook of die vuur aanblaas om die vlamme nog groter te laat brand.

En met die pragtige beeld van iemand wat met ’n blaasbalk staan en ’n vuur suurstof gee, kom die boodskap vir jou en my: Blaas ’n bietjie suurstof by jou gawe-vuurtjie sodat dit ’n verskil kan maak in die wêreld waar jy beweeg.

Ons almal het gawes en party het nog spesiale gawes ook gekry. Moenie jou gawes onder die emmer wegsteek nie. Moenie hulle verwaarloos nie. Ja, ons beddens is opgemaak in die hemel. Ek hoef nie my plek in die hemel in te werk nie. Tog wil en moet ek en jy iets uit dankbaarheid doen. Wat gaan jy sê as God jou eendag sou vra oor die impak van jou gawes in jou leefwêreld?

Verskoon my as ek myself as ’n voorbeeld gebruik. Ja, ek maak ook droog en bank soms kerk en sê verkeerde dinge en is soms lui om elke dag vroeg op te staan om iets te gaan doen vir ander en nog vele meer. Maar God het vir my ’n gawe gegee om ’n ding te sê soos hy is – in gewone Afrikaans.

Verder het Hy vir my ’n bediening gegee waardeur Hy met ander mense wil praat. Ja, ek stuur dit nou aan ’n groot klomp mense uit, maar is dit goed genoeg? Nee, ek moet aanhoudend kreatief wees om dit na nóg meer mense uit te stuur. Ek moet ook ander mense kry om my te help om die aanbieding vars en nuut te hou.

Ek moet IT-mense kry om te help dat alles reg uitgestuur word. Ek moet verder lees oor die teks om die verstaan daarvan suiwer en maklik oor te dra. Die punt? Ek moet energie insit sodat hierdie gawe wat ek van God ontvang het nóg ’n groter impak op ander sal hê.

Tog voel ek klein, want dit wat ek doen en dit wat gebeur, verskil hemelsbreed.  Die energie wat my vuurtjie bymekaar maak, kan sekerlik nie dié klomp hitte afgee nie. Dit is egter waar die Heilige Gees aan die werk is. Hy het mos ook as vuur op die mense se skouers kom sit!

Ons huis is maar aan die koue kant in die winter en ek kry die kans om die gewone Jet Master te vervang met ’n verbrandingskaggel. Die kaggel maak dubbel die hitte met die helfte van die hout. Dit is so effektief! Hoe groter die gaatjie onder oopgemaak word, hoe meer suurstof word ingelaat en hoe warmer brand die vuur. Later brand die vuur so sterk dat dit lyk asof die kaggeltjie wil opstyg.

Die Heilige Gees staan gereed met die blaasbalk in die hand. Neem hande en laat jou gawe se vuurtjie hoër brand en mag die energie wat daaruit kom ’n groot verskil maak in die mense rondom jou se lewe.

Teks
2 Timoteus 1:3-7

Om oor na te dink
Wat is jou gawes?
Gebruik jy jou gawes tot eer van God?
Wat moet jy doen om jou gawes se vuurtjie hoër te laat brand?

Gebed
Here, dankie dat U vir elkeen van U kinders ’n geestelike gawe gegee het wat ons moet gebruik om ander te bederf, te bedien en op te beur. Help my om beskikbaar en bruikbaar te wees sodat U deur my kan werk. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek